Maplotters

Ek kan onthou van die dae wat jy letterlik kans gesien het vir enigiets. Niks was te moeilik om te bowe te kom nie. Julle moet weet die dae toe ons jong getroudes begin het, was ons vasbeslote om ons eie stukkie grond te bekom. Klipman wat as klerk in die staatsdiens gewerk het se grootste begeerte was om tog net ’n stukkie grond van sy eie te hê, ’n plekkie om sy eie groente en blomme te kweek. Iets wat ek verseker geweet het, was dat Klipman nie uitgeknip was vir die pennelekkerspos wat hy beklee het nie. Sy hart was maar by die grondjie waarin hy kon dolwe. Dis net, die geld het ontbreek.

In daardie jare was dit nie vir ons plotbewoners beskore om ’n lening te kry nie. Alles wat ons aangepak het moes kontant gedoen word. Ons huis moes in paaiemente gebou word, soos jy geld beskikbaar gehad het. Daar moes ’n boorgat geslaan word, die grond mos omhein word en vir alles moes daar gespaar word. Dit was moeilik en het baie moed gekos, en dit het partykeer maar ’n laagwatermerk  bereik. Ons was gebrandmerk as maplotters en nie hoog aangeskrewe by ons stadsvriende nie. Hulle het ons maar lelik skeef aangekyk as hulle gehoor het ons kom van die plotte af.

Vrouens was ook nie veronderstel om buitenshuis te werk nie, want manlief was mos verantwoordelik om die pot aan die kook te hou, asook om verbeteringe op die plot aan te bring. Daarom was al die mans maar by alles nog ’n deeltydse boer, iets wat ’n ekstratjie kon inbring.  Groente en vrugte wat moes voorsien in die gesin se behoeftes, ’n klompie hoenders wat moes eiers lê en vir vleis as daar onverwagse gaste opdaag. Daar was ook ’n melkkoei vir die broodnodige melk. ’n Persoon wat nie lyf weggesteek het nie, kon dit maak werk.

Die spreekwoord wat sê, “In die sweet van jou aanskyn sal jy jou brood verdien”, is regtig van toepassing gewees in ons dae. Vir ons maplotters was daar nie iets soos ’n rusdag nie: na die skof by die werk afgehandel was, moes jy nog die werk wat gewag het by die huis gaan klaarmaak.

Die vrou moes huishou, kinders grootmaak en die tuinwerk wat sy kon behartig self doen. As albei nie hart en siel saamgewerk het nie, kon jy maar vergeet en was julle drome gedoem. Een ding was wel waar: die pot kon nie die ketel verwyt nie. Albei moes sy of haar deel doen.

Sake het nou verander. Lenings op plotte is vrylik bekombaar en mense is nie meer maplotters nie, maar estate owners. Nou lyk die huise daar soos paleise en tuine wat vergelyk met die Garden en Home foto’s is oral te sien.

This entry was posted in Leefstyl and tagged . Bookmark the permalink.

One Response to Maplotters

  1. turksvy sê:

    Dit klink hemels!!
    Daar is darem nog baie ras-egte maplotters, hoor! 😆

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s