’n Agterkleinkind ryker

Eers moet ek die goeie nuus met julle deel dat ek gistermiddag nog ’n agterkleindogter ryker geword het. Omdat ek nie naby is nie, het ek nog nie die voorreg gehad om haar te sien nie. My  kleindogter is getroud met ’n Engelsman so ek kan ook maar net foto’s sien van die kleinding. Vir ’n oumagrootjie is elke aankomeling ’n Godgegewe wonder.  Ek voel so bietjie trots want ek het pas uitgevind dat sy so half en half na my vernoem is, daarom te meer kan ek nie wag om haar in lewende lywe te sien nie.

Dit plaas my weer terug  in die dae toe my eie bloedjies gebore is. Die geskarrel om betyds  by die kraamhospitaal uit te kom. Klipman wat nie vinnig genoeg na my smaak gery het nie. Die pyne wat my laat wens het dat die hospitaal net nader was. Dan die pynlike gewag, want soos julle weet in daardie dae was daar nie iets soos epidurale  wat dit darem draagliker kon gemaak het nie.  Moes maar worstel totdat die kleintjie sy eerste skree gee. Wat soms baie ure van pyn  kon wees. Uiteindelik was die gewag en pyn verby. Die bondeltjie vreugde is gebore. Dan vergeet mens al die pyn en ongemak. Daardie tyd was ons mans nie toegelaat om by te staan soos nou nie. Die gelukwensing was eers na alles verby was. Albei ouers was maar te dankbaar en bly dat die proses goed afgeloop het. Wat vir my altyd so onverstaanbaar was, was die feit dat ’n mens so gou vergeet van die pyn en seer en net dankbaar is dat die ou kleintjie alles het wat nodig is.

Na die geboorte lê die grootste taak voor: die opvoeding en grootmaakproses wat nie altyd  sonder haakplekke is nie en soms tot ’n groot kopstampery tussen pa en ma kan lei. Maar tog is ons te dankbaar dat die nuwe aankomeling so oulik en skattig is en almal wil net oe en aa. Die doekomruilery en nagopstanery kan soms ook maar met ’n gebrom gepaard gaan en moes ook maar baie diplomaties hanteer word. Klipman, wat nie so gewillig was om die outydse lapdoeke om te ruil nie, het altyd gou ’n verskoning uitgedink om dit nie te doen nie.  ’n Ma kan haar ongelukkig nie daaruit wikkel nie. Sy moet maar net neus en oë toeknyp en doen wat gedoen moet word.

Wind uitvrywery is nog een van die take wat soms ure van skree kan meebring. Wat vir my baie erg was, was die geskree wat mens nie kon verklaar nie en mens se nagrus heeltemaal  omvergegooi  het. Die kleintjie het dan eers teen dagbreek tot ruste gekom wanneer Klipman moes regmaak om te gaan werk. Al voel mens dan verlig, is dit nie die einde van die storie nie, môreaand herhaal die storie homself: die huilery, winde en krampe is maar weer aan die orde van die dag. Ten spyte van alles is dit die moeite werd om al die ongemak deur te gaan. Môre is alles vergete en word jy weer oorstroom van liefde wanneer jy jou kind in die eerste oggendlig aanskou.

Geniet jou nuwe speelding en weet  ons is in gedagtes by julle. Bederf haar viroumagroot se part ook.

This entry was posted in Kinders and tagged , , . Bookmark the permalink.

2 Responses to ’n Agterkleinkind ryker

  1. MaanKind sê:

    Wat ‘n poppige ou dingetjie! Veels geluk, oumagrootjie!
    En ja, ek weet ook van die ding van jou kinders self ‘gebore’…

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s