Harde baarde

Na al die opgewondenheid oor die groot wedstryd tussen die Sharks en die Leeus wonder ek hoeveel Leeu-ondersteuners het Sondagoggend met ’n lekker hangover wakker geword. As jy die toeskouers dopgehou het, het baie van hulle nagemaakte baarde aangehad want die Leeu-kaptein het ’n regte maanhaar van ’n baard. Jy kon sommer sien waar hulle sentiment gelê het. Veral toe Jantjes die strafdoele so een na die ander oor die dwarslat laat seil het. Na twaalf jaar is die Curriebeker weer in besit van die Leeus.

Ek wat maar net ’n leunstoel  toeskouer is, wonder waaroor die bohaai nou eintlik gaan. Baie van die reëls  is vir my maar Grieks en daarby verander die reëls ook kort-kort en hou dit bo my vuurmaakplek. Ek skreeu maar net as daar ’n drie gedruk word of as daar ’n strafskop oor die pale gaan. Die seuns en kleinkinders wil opsluit hê ek moet kan saampraat as hulle die spanne teen mekaar opweeg. Dan hoop ek maar ek maak die regte geluide op die regte plekke. Vir my bly dit maar net die een span wen en die ander een verloor. So what.

Vir baie spanne was dit hierdie jaar  baie teleurstellend want hulle het al vroeg-vroeg  geweet hulle het nie ’n kat se kans om mee te ding nie. So kon daardie spanne maar ’n bietjie slap laat lê. Vir ons Blou Bulle was dit natuurlik ’n groot slag. Vir wie skreeu jy nou?Na die Leeus se goeie vertonings gedurende die seisoen  was dit vanselfsprekend dat mens jou lojaliteit teenoor hulle sou toon.  En hulle het dit toe regtig verdien. Ons was verheug dat hulle so oortuigend gewen het. Nou sien ons maar weer uit na volgende jaar. Miskien verhang ons weer die bordjies en kan ons weer ons Blou Bul uitrustings afstof en ons vlae laat wapper. Suurdruiwe, sal julle sê, Blou Bul ondersteuners kan nie vat dat daar soms ’n ander span is wat moet wen nie. Dis maar net menslik.

Nietemin is ons trots op ’n span wat van heel onder tot heel bo gevorder het. Die bebaarde kaptein kan seker wees dat  daar meer as een aanhanger gaan wees wat sy voorbeeld gaan volg, tot menige vrou se spyt. Baarde gaan aan die orde van die dag wees.

Albei my seuns het ook, soos ons dit noem, bokkiebaarde, die oudste vir sy hele volwasse lewe , die ander een maar so onlangs. So is baardmanne vir my alledaags. Wat nogal vir my opvallend is, is dat daar al hoe meer mans  is wat baarde kweek. Party blameer natuurlik die hoë koste van skeerlemmetjies, wat uit die bloute uit sommer hand om hand verhoog het. Baarde is goed as die persoon netjies daarop is, andersins bly maar weg. Toiingrige hare en baard is regtig nie vir my aanvaarbaar nie.

Die manier waarop die sportmanne nou se dae hulle stoppelbaardjies groei, laat my altyd dink dat hulle te lui was om te skeer en die verskoning gebruik dat dit sexy lyk. Daar is niks so mooi as ’n skoongeskeerde gesig en ’n mooi hemp om ’n meisie se aandag te trek nie.  In my dae is ’n man getakseer op sy broek se nate, of sy skoene skoon was en die algemene netheid van sy persoon. Sommige mans lyk deesdae of hulle in hulle klere geslaap het.

Maar as jy die Leeu-kaptein is en jy wen die Curriebeker, hou maar jou maanhaar.

This entry was posted in Leefstyl, Sport and tagged , , . Bookmark the permalink.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s