My suster

Ek  het gisternag so ’n nostalgiese droom gehad en daarom wil ek vanmôre vertel van my heel beste vriendin.

Ons het elke denkbare ding aangepak, nooit sonder mekaar nie. Saam kattekwaad aangevang, beurte gemaak met ons huistakies, amper soos ’n Siamese tweeling. Soos julle seker kan aflei was my beste vriendin my suster wat twee jaar ouer is as ek. Sy was die leier en ek het haar gevolg in alles wat sy bedink  het. Sy was ’n regte tomboy. Niks was vir haar onmoontlik nie; ek daarenteen was bang vir alles, ’n regte nerd. Sy was dan kwaai met my en het soms ’n paar klappe uitgedeel, wat wat my laat dink het dat sy ’n regte heks is. Dan het ek gedoen wat sy wou hê ek moes saam met haar doen. Tot vandag toe glo ek my behoud was dat sy my soms gedwing het om te doen wat ek geglo het ek nie in staat is om te doen nie. Dit was vir my soos terapie. Later kon ek iets aanpak sonder om te voel asof dit bo my vuurmaakplek is.

Ons was die oudstes van ses kinders en vir sewe jaar was daar nie ’n ander sussies of boetie waaroor ons ons moes bekommer nie. Ons het skool toe gestap, teruggekom en die middag omgespeel. Gewoonlik buite, behalwe as die weer dit nie toegelaat het nie. Vir ons was die dae te kort om alles in te pas. Ons beste speelplek was natuurlik die spruit. Saans was ons so besmeer met klei en modder dat ma gekla het oor hoe sy dit skoon gaan kry, maar  wat gespeel het was ons. Na ete, skoon gewas en in die bed het ons self ’n storie gelees totdat die slaap ons oorval het. Daar was nie iets soos nagmerries kry nie, want daar was nog iemand as versekering naby jou. Toe ons tienerjare aanbreek, het ons saam-saam  oor die onderdeur begin loer. Ons het stories uitgeruil, soms gehuil oor die kys wat gebreek was of andersins  dat dit voor die wind gegaan het.

Toe trou ons en albei gaan ons onderskeie weë. Ons het kinders groot gemaak en buitenshuis gaan werk. Ons weë het geskei, maar soos alles in die lewe gaan, is ons nou albei weduwees. Nou het ons nie meer so gereeld kontak nie, maar ons kuier nog graag oor en weer. Dan praat ons baie oor die verlede en wat ons alles aangevang het. Maar ons grootste vreugde is nou om oor ons klein-en agterkleinkinders te spog.

Ons is, ten spyte van ouderdomsverskille, baie erg oor ons ander sussies en boetie en kan lekker met hulle almal gesels. Maar vir my bly die band tussen ons twee oudstes besonders ten spyte van die feit dat ons nie alles deur dieselfde bril sien nie. So weet ek ook bloed bly maar dikker as water. Ek sou graag meer van haar wou sien maar afstande en kostes hou ons uitmekaar. Natuurlik wil die gesondheid ook nie altyd saamspeel nie. Ek wens soms dat ons weer jonk kan wees en doen wat ons altyd gedoen het. Wanneer ons wel bymekaar uitkom, gesels ons sommer tot twee uur soggens.

My bede is dat, al loop die tyd nou vinnig uit, ons nog heelwat saam sal kan ervaar.

This entry was posted in Familie, Herinneringe and tagged . Bookmark the permalink.

2 Responses to My suster

  1. Stephan Steyn sê:

    En my gebed vir jou is dat julle baie meer tyd saam gaan spandeer as wat jou wildste drome jou toelaat om te fantaseer… Geniet mekaar!

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s