Piekniek

Onthou julle nog hoe ons in die ou dae piekniek gehou het? Dae voor die tyd is daar al begin om die kos wat ons beoog om saam te neem voor te berei. Die vleis, wors of ribbetjies wat ons daar sou braai was, soos gewoonlik, die belangrikste items.  Ons is mos regte karnivore, sonder vleis lyk enige dis maar bleek. Aartappels in enige vorm was ook ’n moet. So houers met aartappelslaai is altyd eerste ingepak. Dan volg al die ander moet hê’s.

Kinders is mos hol en daar moes dus gesorg word vir genoeg peuselgoed. Daardie tyd was daar nie die gerief wat ouers nou se dae het om by die winkel op die hoek chippies  en soutbeskuitjies te gaan koop nie. Alles is in jou eie kombuis voorberei: kool- en rysslaai kon darem al die vorige dag voorberei word. Die komkommer en tamaties is heel ingepak en by die piekniekplek voorberei terwyl mens wag dat die vleis gaar word. Kleinkoekies en vrugte wat in seisoen was, is ook ingepak. Genoeg om kinderkakebene besig te hou.

Daar was nie koelhouers soos nou nie, so mens moes slim pak om die eetware  koel te hou. As ons naby die rivier gaan piekniek maak het, was dit nie ’n probleem nie. Die glashouers kon maklik in die vlak watertjies aan die kant staan gemaak word. Moenie vergeet nie van die waatlemoen wat ’n moet was vir ’n piekniek. Want wat was lekkerder as die hardloop agter iemand aan wie se gesig met waatlemoenskille besmeer word. Groot pret.

Die piekniekkombers moes nie vergete gebly het nie. Enemelbekers en -borde, vurke en messe en lepels is ingepak maar was nie altyd nodig nie want soveel as moontlik is met die hand geëet. As die braaivleisvure reg was, kon die smullery begin.

Kinders was skaars gesien soos hulle tussen die lang gras wegkruipertjie gespeel het. Kort-kort het hulle hulle warm lyfies in die rivierwater gaan afkoel. Die ouer mense het al die nuus wat hulle gehad het met oorgawe oorvertel want ’n piekniek was ’n geleentheid vir die hele familie om bymekaar te kom. Sulke geleenthede was maar skaars en ver uitmekaar.

Na ete het die groot mense bietjie gaan skuins lê, terwyl die kinders maar aangegaan het met hulle speletjies. Die groter meisies en seuns het gewoonlik lang ente gaan  stap. So teen vieruur moes die piekniekgoedjies weer opgepak en die terugrit  huis toe aangepak word. Tot groot teleurstelling van die spelende kleintjies want vir hulle was die tyd te kort om alles te doen wat hulle graag wou doen.

Ek moet nou bieg en sê dat ek, wat nou aan die verkeerde kant van tagtig is, maar die gerief van ’n stoel, tafel en bed verkies. Ek kan nie dink dat ons dit so geniet het om tussen die sand en miere en plat op die grond ons kos te eet nie. Ek kan ook nie vergelykings tref tussen die gerieflikheidsvlak van vandag en die ongerief van destyds nie, maar vir ons was dit toe ’n heerlike uitstappie.Ons kon nog lank daarna gesels oor die nuus wat ons daar gehoor het en die lekker kos wat ons geëet het. Deesdae, dink ek, is daar maar min kere wat families nog op hierdie manier bymekaar kom.

This entry was posted in Herinneringe, Leefstyl and tagged . Bookmark the permalink.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s