Blou Maandag

Vanmôre het ek definitief met die verkeerde voet uit die bed geklim. En dit lyk regtig nie asof dit ’n dag is waarop daar enigsins iets gaan gebeur wat my in ’n vroliker bui  sal kry nie. ’n Opregte blou Maandag, sommer baftablou. Die reëntjie wat neersif, is nie eers genoeg om mens te laat nat word nie, maar genoeg om my gemoed nog meer te versomber. Oor een ding is ek darem bly, vroeë toe ons wasgoed op Maandae gedoen het, het ons gesukkel om om dit op reënerige dae droog te kry. Nou is dit nie meer nodig om te bekommer oor hoe dit gaan droog kom nie. Masjiene en implemente  neem die las van mens se skouers af.

Ek onthou nou hoe ons gesukkel het om die babadoeke droog te kry in ons dae. Die bloedjies het mos  in sulke weer meer doeke nodig gehad as gewoonlik. Sou wat wou gee om al die nuwerwetse hulpmiddels toe te gehad het. Maar dit laat my dink aan die onding wat nou sy kop uitgesteek het in die vorm van weggooidoeke. Ek dink altyd aan hoe ’n groot hoop so ’n berg weggooidoeke kan word. Het hulle al ’n oplossing om van die doeke ontslae te kan raak. Of is dit soos plastieksakke? ’n Mensgemaakte euwel wat vir ons so gerieflik is en is dat ons nie dink aan die nagevolge van ons dade nie.  Kyk maar rondom jou, in die apteke en supermarkte sien jy die waentjies vol babadoeke. Hoe mense dit kan bekostig bly ook vir my ’n raaisel, as jy dink hoe ons moes maak doen met die flennie- of handdoekstof doeke. Dit was nie so lekker om doeke te was nie, veral omdat ons gespog het met hoe wit ons babadoeke was. Jou aansien as mamma het sommer gedaal as die babadoeke nie spierwit was nie.

In die verlede was dinge wat gedoen moes word, al het dit gereën of het die wind gewaai, vir ons van die grootste prioriteit. Van uitstel kom afstel, was ons leuse.

Soos ek nou vanoggend steen en been kla oor die weersomstandigheid wat my glad nie pas nie, kan mens nie so ’n luukse bekostig nie; mens moet doen wat gedoen moet word.  Al is die dag ook so blou dat jy voel asof jy net kan opkrul en jouself bejammer, moet mens onthou dat die lewe aangaan. Jy kan nie jou moods op ander uithaal en hulle verskreeu nie; dis immers nie hulle skuld dat jy voel soos jy voel nie. Baie makliker gesê as gedaan, maar ongelukkig waar. Konfronteer iemand as hy jou sommer oor niks verskreeu en afsnou, dan is die verweer dat hy of sy nie lekker voel nie, dat jy maar eerder van hom of haar moet wegbly.

Maar nie almal het die luukse om agter daardie verskoning te skuil nie. Dink maar aan jou huishulp wat in haglike omstandighede bly, jy voel dat sy altyd vriendelik moet wees. Brom en kla kan sy nie want sy dink moontlik: “Sê nou maar ek word afgedank omrede my buie.” Sy moet maar die blink kant bo hou.

Ek dink nou twee keer voordat ek my mond oopmaak en ander veroordeel. Op hierdie stadium is ek afhanklik van ander en probeer ek maar so min as moontlik probleme veroorsaak want ek wil nie graag deur ’n onvriendelike persoon gehelp word nie. So, ek probeer vergeet van die blues en doen my bes om te glimlag. Ek is ook dankbaar dat ek nie meer hoef te bekommer oor nat doeke en wasgoed nie. Vir my is dit in die verlede. Miskien skyn die son môre weer en het my gemoed baie gelig.

This entry was posted in Depressie, Leefstyl and tagged . Bookmark the permalink.

5 Responses to Blou Maandag

  1. MaanKind sê:

    Ek kom ook uit lapdoekdae uit, en weet jy wat het daarmee saam uitgesterf? Brandboudjies!

  2. Stephan Steyn sê:

    En wat het daardie slim oom van weleer nou weer gesê; – “Waboomblare, knarrabosblare. Gister was ek arm, vandag is ek ryk…” en so gaan hy aan todat hy “stinkryk” was. Ondervinding, en in sommige gevalle tegnologie, verlos mens van armoedige vodde. Jou vlak van “rykdom” word retropektiewelik en dikwels bepaal deur die armlastige status waarmee jy wegspring. Ek, synde ‘n jaar en miskien ‘n knars jonger as jy (Klippie) en Maankind, het my ouerskap (gelukkig) in die afwesigheid van lapdoeke begin maar as oudste van ses seuns onthou ek tog die verdrietige moeite wat Ma met die ellendige goed gehad het. Sy het sulke plastiek emmers met ‘n prentjie van ‘n oulike baba op gehad, Steri nappi of so iets, waarin sy vir ewig en ‘n dag die doeke moes week om hulle wit te hou. Ek en my maters met ons kleilat oorloë was blykbaar haar gruwelikste babadoek-nagmerrie. Vir julle, soverre dit babadoeke aanbetref, is “rykdom” die gemaksugtige luuksheid van masjiene waarmee julle die goed skoon en droog sou kry, reenweer ofte nie. My “rykdom” lê nog iewers in die toekoms… Was daar nie iewers in die geskiedenis iemand wat blou in wit of geel of rooi kon toor nie? Dan kon ons dalk iets omtrent Klippie se blou-befoeterde Maandag gedoen het. G’n wonder daar is ‘n liedtjie met die naam “I don’t like Mondays”. Klippie, met die Maandagson genadiglik weswaarts verdwene, is die universele blou foltering hopelik nou iets van die verlede en kan jy weer asem skep. Vreugde tot volgende week…

  3. seegogga sê:

    Ai, ek hoop die son skyn more lekker daar by jou- so ‘n bietjie sonskyn laat gewoonlik die gemoed ook lig! ( en ja, my dogter het ‘n tweeling. Dis duur, maar wonderlik dat sy weggooi doekies het- dink net hoe sy sou moes was daar in die verre Holland, sonder huishulpe, ma’s en oumas.

  4. senings sê:

    Abra-kadabra en kaboems, daar skyn die son!

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s