Remembrance day

Op hierdie spesiale dag waarop al die ene in ’n ry gegroepeer is (11/11/11), loop my gedagtes groot draaie. Klipman se verjaarsdag. Hy sou vandag 85 gewees het. Hy was nie ’n ou vir enige fieterjasies nie, so is sy verjaarsdag maar gewoonlik net met baie spesiale mense saam gevier. Na sy aftrede was dit vir hom heerlik om nuwe disse uit te toets en daarom het hy altyd daarop aangedring om sy verjaarsdagete self te berei. By ons huis was daar altyd kuiermense, vir hom heerlik om iets uit niets op te tower om te eet. Potjiekos was natuurlik heel bo aan die lys. Op sy verjaarsdag was jy al vroeg wakker gemaak met ’n lekker koppie boeretroos en groot uitgerysde anysbeskuit. Sulke beskuite met die geur van anys, waar wil jy nou lekkerder he,

Vroeg-vroeg het die familielede begin opdaag. Klipman straal want nou kan hy sy  nuwe kookkunsies beginopdis. Ons was ’n groot familie en almal het naby gebly. Die verjaarsdag ete was nie vir ’n spesiale tyd gereël nie. Dit was meer soos ’n buffetete, baie  vingerhappies want pa se spesialiteit sou eers later bedien word. Die mense wat deur die dag kon kom was getrakteer op sy spesiale koesisters en gevulde pannekoeke. Sampioene in ’n degie gebraai. Kerrie was ook van sy groot gunstelinge. Natuurlik gemmerbier vir die vroue en ietsie sterkers vir die manne.

Potjiekos was dan vir aandete bedien met potbrood en roosterkoek. Hy  was baie gelukkig as die mense hom kom bedank het vir wat vir hom ’n louter plesier was, om almal te sien geniet van sy kookkuns. Een ding waaraan hy nooit sy hand gewaag het nie, was poeding. Sy koeksisters was baie dekadent, so ons het nie poeding nodig gehad nie.

Na agt jaar wat hy al weg is, is daar soveel wat ons aan hom herinner. Die boomvarings wat al hoër as die huis is, die varkore wat so welig groei, die verskillende frangipanis alles deur hom geplant is vir ons elke dag asof hy maar hier rond is. Vir ons was hy maar die onpretensieuse man. ’n Regte korrelkop, maar meer lojaal sou jy nie kry nie.

Vir vyftig jaar en ses dae was ons getroud, baie sakke sout saam opgeëet. Baie myle afgelê, partykeer vir werk en ander kere vir plesier. Dit was nog een van sy plesiertjies, agter die stuurwiel, om nuwe plekke te verken. Sy gunstelingplek was die Etosha. Hy kon vir ure langs ’n watergat sit om die verskillende diere dop te hou, om die maan te sien opkom vanaf die dak van die Namatoni-fort. Ure, dae, maande vlieg soos skadudrome heen maar vir ons wat agter gebly het, bly die herinneringe so vars soos gister.

Julle sal my vergewe as ek hierdie dag nie gedenk as die einde van die Eerste Wêreldoorlog nie, maar eerder my man se verjaarsdag onthou. Dis net nog  ’n steen in my muur van herinnering. Klipman se leuse was altyd, bring die blomme terwyl iemand lewe en dit het hy letterlik en figuurlik altyd probeer doen. In my gedagtes strooi ek vandag vir hom roosblare, eerder as om poppies te dra.

This entry was posted in Familie, Herinneringe and tagged , . Bookmark the permalink.

6 Responses to Remembrance day

  1. senings sê:

    Happy birthday Oom Klipman!

  2. turksvy sê:

    Tannie Klip, dis baie mooi geskryf. Dankie vir die deel daarvan.

  3. net n ander iets sê:

    So n klompie jare gelede was ek gevra om my pa te beskryf met een woord en my onmiddelike antwoord was rots, toe ek gevra is om te verduidelik was my andwoord hard soos klip en onbeweeglik op die eerste oogopslag.
    Maar as jy na aan hom gekom het was dit duidelik ook n skuilplek teen die storms en in die oue en skeure die vastrapplek vir allerhande klein eksotiese plantjies, en nog belangriker daar waar mens dit nie dadelik sien nie in die skadu groeiplek vir die mos.
    So kom laat ons dan vandag dit n herrinering maak vir al die Klipmanne en Rotse en soos n vriend sy pa beskryf het n Hardekool boom.

    Dit laat my nou wonder wanneer dit tyd word vir my kinders en kleinkinders om my te onthou hoe sal my beskrywing by hulle wees.

    • klippie sê:

      Dis waar. Klipman was soos ‘n rots, maar het ook die sagste hart gehad.
      So werk ons almal maar aan dit wat ons kinders en kleinkinders van ons gaan onthou.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s