Fobies

My grootste vrees is roltrappe. Natuurlik dink die kinders ek is bietjie koekoes. Wie is nou bang vir ’n trap waarop jy net doodstil staan en die trap doen die werk? Ja-nee, ek kan dit self ook nie verklaar nie, ek weet  net ek slaan in doodsweet uit by die gedagte om my voete daarop te plaas. Dan wonder ek hoe die kinders so op en af daarop kan ry? Miskien is dit weens die feit dat ek maar selde as kind daarmee te doen gekry het. Ek klim liewers trap as om my voete op daardie roltrap te waag. As daar nie ’n hysbak beskikbaar was nie, moes die kinders maar wag totdat ma die trappe opgesukkel het. Menige dag was hulle maar vies om te wag vir ma wat weier om roltrap te ry. By ’n sekere winkel waar daar nie gewone trappe was nie, was hulle gewillig om die trap te stop sodat ek op die volgende vloer kon kom. Ek kon die persoon sommer soen omdat hy kon verstaan dat ek maar net nie die moed gehad het om my vrees te bowe te kom nie.

Natuurlik kan mens dit as een of ander fobie klassifiseer en ek is seker dat die geleerdes wel een of ander oplossing daarvoor sal hê. Vir my is dit net ’n groot verleentheid om te erken dat daar nie eintlik ’n rede is hoekom ek so bang vir die onskuldige trappe is nie.  Nou kan ek gelukkig nie meer op die trappe ry nie want rystoele kom nie daarop nie. Nou het ek darem ’n rede om net toe te kyk.

Vrees is soms een van die dinge wat vir ander mense onverklaarbaar is. Maar vir jou wat daarmee sukkel lyk dit aanvanklik belaglik, totdat jy voor die ding te staan kom wat vir jou soos ’n onoorkomelike struikelblok lyk. Die liedjie: “Ek is ’n dapper muis, kyk hoe stap ek deur die huis”, laat my so aan myselwers dink. Ek gee voor dat daar niks is waarvoor ek bang is nie totdat die roltrap my daaraan herinner ek is ook maar feilbaar.

Ek erken gemaklik dat ek ook nie altyd die kinders se vrese verstaan nie. Vir my lyk dit partykeer onsinnig totdat ek my vrees met iemand anders deel. Dan voel  dit maar bra asof ek van lotjie getik  is. Wat vir selfs die heel ou kleintjies ’n groot bederf is, is vir my ’n groot vrees. Ek kan nie verduidelik hoe ’n mens se kop werk nie.  Vir my is dit net ’n ding wat ek graag sou wou verander as ek kon. Maar as gevolg van my vrees het ek winkels vermy waar jy nodig gehad het om van roltrappe gebruik te maak.

My onnodige vrees laat my in koue sweet uitslaan. Daarom dink ek ons moet maar  geduldig wees met ’n kind wat dalk ’n vrees vir een of ander ding het. Dit is nie lekker om te moet erken dat daar iets is wat jou die papparellekoors laat kry nie. Sterkte, want ek weet hoe dit voel.

This entry was posted in Fiemies, Vrese and tagged , , . Bookmark the permalink.

2 Responses to Fobies

  1. MaanKind sê:

    Ek verstaan maar te goed, ek het ‘n wurmfobie

  2. Toortsie sê:

    Ek dink almal het maar een of ander vrees, hul wil dit net nie altyd erken nie! En soms het ons nie genoeg deernis vir die ander persoon se vrees nie. 10 uit 10 vir die roltrapbestuurder wat dit gestop het!

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s