Naweek

Toe ons jonger was, was Vrydag baie belangrik. Met die aanbreek van die naweek het ons die nodige werk wat pa gewoonlik al vroeg in die week bedink het om te doen, gou-gou afgehandel. Na middagete kon ons dan begin met ons dinge. Hare was en lekker in die groot ou sinkbad die dag se vuil afwas. Ons naweekrokkies uithaal en voor die spieël pronk. Verby die knopknieë kyk en ons verbeel ons lyk sommer pragtig. Nou was ons reg vir die naweek.

Iewers sal een van die ooms sy konsertina of oom Hans sy traporreltjie uittoets. Kort voor lank is ons viermanskap daar en begin ons ’n paar danspassies uitvoer. Teen ses uur begin die ouers ook naderkom en kort voor lank is daar ’n volbloed partytjie aan die gang. Daar was nie ’n bekommernis waar die eetgoed vandaan gaan kom nie. Vetkoek  en sop was genoeg as dit ’n koel aand was, maar ek kan julle verseker daar was nie baie gedink aan eet nie, die voete wou net trippel. Vir die droë kele was daar rooi aanmaak koeldrank of Ma se gemmerbier. Sy was ons gemmerbier tannie. Nie te sterk nie, net lekker.

Ousus was baie bedrewe met die danspassies en sy het ons almal geleer: wals, vastrap of polka. Die setties was nie so maklik om baas te raak nie. Gelukkig was sy maar te gewillig om ons touwys te maak en het sy altyd kon spog dat sy nie een dans uitgesit het nie. Teen twaalfuur was ons so uitgeput dat ons vinnig bed toe is. Gelukkig was pa daar met die Fordjie en hoef ons nie te geloop het nie. Toemaar. Volgende Saterdag maak ons weer so.

Die ouers wat nie saam met die jonges wou kom bokspring nie, het gewoonlik gesorg vir ons knibbelgoedjies. Die tannie wat ’n probleem gehad het met ’n been het gesorg vir die jemtertjies, die ander een het die lekkerste droë koekies gebak, van dié met die vulsel tussen in. So het almal gesorg dat die jonges nie verveeld rond gesit het en ondeunde goed uitdink nie.

Daar was nie baie jonges nie, en daar was ook nie onmin onder ons nie. My neef, sy vriend, my suster en ek was buitendien altyd saam. Ons het elke geleentheid aangegryp om te dans of speletjies te speel. Ons het onsself die viermanskap genoem.

Omdat ons op die plotte gebly het, het ons nie op daardie stadium ’n kerkgebou gehad nie. Die predikant het elke tweede naweek huiskerk kom hou. Wat ook maar eintlik ’n soort geselligheid was. Die huisvrou wat haar huis beskikbaar gestel het, het uitgehang met so baie eetgoed dat ons nie kon wag dat dominee moes amen se voordat ons begin smul het aan al die koek en tert nie. Ek weet nie of ons altyd mooi geluister het na die boodskap nie en of ons gedagtes eerder by die eetgoed was nie.

 Aan alle dinge kom daar ’n einde. Ons het groot geword en elkeen sy eie paadjie geloop. Naderhand het ons kntak met mekaar verloor. Die dood het ook sy tol geëis. Maar by nabetragting was dit vir ons ’n lekker tydperk waaraan ek baie dae dink as  die fase in my lewe wat ek graag weer sou wou beleef. Miskien sou ek ontnugterd gewees het. Wie weet?

This entry was posted in Herinneringe, Leefstyl and tagged , , . Bookmark the permalink.

2 Responses to Naweek

  1. MaanKind sê:

    Ons moet nooit te veel dink aan enige iets wat ons gehad het, of gedoen het, of kon gehad het of gedoen nie. Ontnugtering is onvermydelik!

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s