Susters

Al my susters kuier nou in Pretoria. Weens omstandighede was dit nie vir my beskore om daar te wees nie. Nou wonder ek so in my enigheid wat se stories daar uit ons verlede opgediep word. Daar is niks so lekker om al die  onthou-jy-nogs weer van vooraf te beleef  nie.

Ons geaardhede is so verskillend dat ’n mens wonder na wie ons almal aard. Daar is die raakvatters en die van ons wat nie eens ’n knoop behoorlik kan aanwerk nie. Ek resorteer onder die ouens wat liewers wil dagdroom en hoop daar sal iemand wees om die sleurwerk te doen. My oudste en jongste susters lyk nie net na mekaar nie maar is voorslae wat kosmaak en dekoreer werk betref. Hulle huise is altyd onberispelik netjies en prentjieboekmooi versier. Nie ’n ding uit sy plek nie. My ander suster en ek was die minste gepla oor die stof en het liewers  iets gedoen waar ons nie hoef te bekommer oor al die boeke wat rondlê en of daar stof op die rak is nie.

Soos die noodlot toe wou hê, trou my suster, die dromer, toe met ’n man wat ’n absolute perfeksionis is. Dit was ’n fiasco kan ek jou verseker. Niks moes uit hulle plek wees nie, alles blinkskoon en agtermekaar. Na vele kopstampery het hulle darem  op die ou einde ’n kompromie bereik. Hulle het twee kinders, een so prim en proper soos pa en die ander een wat graag stories wil skryf. Net so min gepla oor die stof.

Gelukkig vir my was my man nie so behep met die blink vloere en stoflose toestand van die huis nie. Hy het altyd gesê die huis is daar vir sy gerief en hy laat hom nie dikteer deur in ’n huis te bly waar hy nie gemaklik voel nie. Ons was voëls van enerse vere.

My twee ander susters se huise lyk soos skouhuise. Altyd aan die kant, nie ’n ding uit sy plek nie. Die jongste een is kinderloos so daar is net twee van hulle wat baie dieselfde geaardheid het. So daar is nie probleemdaar nie. My oudste suster is nou in ’n ouetehuis  en ek dink sy verlang baie na die dae toe sy nog in haar eie huis die septer geswaai het. My middelsuster is oorlede, maar in haar lewe was sy ook een van die wat gespog het met ’n onberispelike huis. Nou wonder ek net waar kom ek dan vandaan dat ek meer van ’n lekker boek hou as om te spog met ’n blinkskoon huis?

Ten spyte van ons verskillende geaardhede  is ons baie geheg aan mekaar en kan ons lag dat die trane rol oor dinge wat ons aangevang het. Ons gesels gewoonlik land en sand tot die vroeë oggendure.

Ons het net een broer, maar hy is baie na aan ons. Hy het ook opgevlieg Pretoria toe vir die reünie. Ek hoop dat die wekie wat hulle bymekaar is voorspoedig sal verloop en hulle kan gesels oor die jare her en kan onthou toe ons as familie elke moontlike tydjie saam deurgebring het: besig om ’n vleisie onder die moerbeiboom te braai, altyd gesels asof ons mekaar lank gelede gesien het. Nou is dit maar net herinneringe waarop ons kan teer, veral as die pyne so fel is.

This entry was posted in Familie, Leefstyl and tagged , . Bookmark the permalink.

2 Responses to Susters

  1. MaanKind sê:

    Dis hartseer dat jy nie ook daar kon wees nie. Ek hoop die omstandighede was so dat hulle by jou kon uitkom?

  2. seegogga sê:

    Ek hoop ook so- dat julle almal weer by mekaar kan uitkom.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s