Grootword

As ek so tussen die lyne lees en luister waaroor die kinders praat en droom, is dit vir my asof hulle radikaal anders is as toe my kinders jonger was. Die meisies droom net om modelle te wees of andersins aktrises. Hulle praatjies oor klere, mooimaakgoed en popsterre is vir my iets waaroor ek in die Huisgenoot lees. Die seuns wil weer net iets bereik soos om wêreldklas krieket, golf of rugby te speel. Hulle haarstyle verskil ook baie van dié van vroeër dat hulle vir my partykeer soos golliwogs lyk. En dan wonder ek of die nuwerwetse leefstyl vir hulle goed is. Die feit dat hulle op so ’n jong ouderdom so wêreldwys is  laat my wonder of dit die kindwees van hulle ontneem. In ’n grootmens geselskap wil hulle amper beter weet van enige onderwerp, of dit nou karre of politiek is, as jy.

Ek dink aan my jongdae toe ons so gespeel het dat net jou oë tussen die stof en vuil uitgesteek het. Ons ouers het gesê dat kinders gesien en nie gehoor word nie. As daar kuiermense gekom het, het ons net gewag om te groet en daarna verdwyn om net te kom eet. Ons het net hande gewas om darem nie met vuil hande aan ons kos te raak nie. Sodra die tafel afgedek was en jy weer verder kon gaan speel, het ons met ons speletjie by die nabygeleë spruit aangegaan. As die kleilatgeveg afgehandel was, het ons maar kleiosse of beeldjies wat soos gemmerkoekmannetjies gelyk het, gemaak. Modderkoekies is gebak en kwansuis geëet. Die gevolg was baie vuil hande en gesigte. Nou moet die ou kleintjies al van kleins af reg maak vir crèche of speelgroep. Altyds skoon en netjies, hare gekam en geskoei.

Toe my kinders nog klein was, was daar nie meer ’n spruit naby nie, hulle geliefkoosde speletjies was om in die rooigrond paaie en huise te bou. Omdat pa se stokperdjie die groentetuin was, was daar gereeld water gelei en het die seuns lekker in die modder rondgeploeter. Hulle was toegelaat om te speel maar op voorwaarde dat hulle voor slaaptyd skoon gebad moes wees. Die badwater was maar baie vuil, maar hulle ten minste skoon.

Die kinders was baie blootgestel aan allerhande kieme, maar een ding kan ek julle verseker, hulle het maar selde ’n dokter gesien. Nou se dae is daar wipes vir alles en word die kleintjies heeldag skoon gevee. Ma kom die kleintjies haal en dan moet hulle net oppas om nie met vuil hande aan ma se rok of die kar se bekleedsel te raak nie.

Ons kinders was opgespeel tussen die stof en modder. Bome geklim en uitgeval. ’n Arm is in die proses gebreek;  hulle het soos trense gelyk maar was sielsgelukkig. Die dae was te kort om alles in te pas. Toe skooltoe gaan tyd aanbreek het die speletjies maar in die middae aangegaan.

Maar natuurlik het die belangstellings verander hoe groter hulle geword het. Klipman het vir hulle ’n Mecanostel gekoop en toe was dit ’n aardigheid om al die ontwerpe wat hulle opgetower het te bewonder. Brûe is gebou, vliegtuigies ontwerp, eintlik te veel om alles te onthou, maar dit was vir hulle ’n uitdaging om iets te maak wat die ander een nog nie probeer het nie.

Kinders van vandag is op ander maniere slim en vaardig maar miskien sou hulle ook graag sonder fieterjasies wou grootword.

This entry was posted in Herinneringe, Kinders. Bookmark the permalink.

3 Responses to Grootword

  1. senings sê:

    Eendag, as hulle my en jou ouderdom bereik, gaan hulle ook soos ons terugvelang na die dae toe hulle sorgeloos en sonder fieterjasies grootgeword het. En hulle gaan ook bekommerd wees oor die manier waarop hulle kinders grootword en waaraan hulle blootgestel is…

  2. net n ander iets se vrou sê:

    Dis darem nog anders op die platteland. Ons kleindogter (‘n stadskind) kuier by ons en moet noodgedwonge kleuterskool toe gaan as ouma werk. So skoon soos sy in die stad van die skool af kom, so vuil is sy elke dag as ek haar hier by die skool optel. Ek kan dit nie verstaan nie en vra vir haar hoekom sy so vuil is. Haar antwoord: “My maatjie het my vol sand gegooi”. Ek: “Hoekom?. Sy: “Want ek was n grondpad!”. Ons gun haar die lekker kindwees op die platteland en geniet haar ten volle.

  3. Toortsie sê:

    As ek vir jou meer as 100% vir hierdie skrywe kon gee, HET ek! Ek kan nie onthou of ek al oor “mammatyd” geskryf het nie, sal moet gaan kyk, maar dalk is NOU die beste tyd daarvoor. Dit voel vir my kinders moet al hoe vroeër skool toe gaan, gaan langer skool, en is swakker opgevoed en het minder kennis as vroeër. Natuurlik is hulle seker vir nou se tye goed geleer, maar ek dink daar glip BAIE! Geen onderwyseres kan die plek van ‘n ma vul nie, en dit sê ek wat self ‘n onderwyseres is.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s