Stres

Wat is stres? Vroeër jare het ek gesê ek voel sommer skuinsbedonnerd as ek met die verkeerde voet uit die bed geklim het. Niemand moes dan met my skoor soek nie. Nou  moet jy maar iemand ligvoets benader, want hy het soveel stres. Daar was nie spesiaal voorsiening gemaak om so ’n persoon sagkens te behandel nie. Hy moes maar oor sy buierigheid kom. Nou moet jy so ’n persoon behoorlik behandel asof dit ’n siekte is. Stres by die werk, skool of sommer net die groepsdruk van maats.

Moet ek nou alles wat my omkrap toeskryf aan stres?. Soos ek sê,  by ons was dit maar net ’n bui wat maar moes oorwaai. Al waarvoor ons ooit simpatie by ons ouers gekry het, was as ons dalk siekerig gevoel het. En dan net ook as ma besluit het dat dit nie ipekonders was nie. Jy was summier aangesê om maar jou mond af te blaas want daar gaan niks van kom dat jy almal sleg wil behandel nie.

Stres is vir my soos ’n modegier. Almal het daarvan gehoor en as die dag maar blouerig  lyk, kan ek die verskoning gebruik dat ek te veel stres het. Vra jy of daar iets is waarmee jy kan help, is die antwoord gewoonlik, nee dankie.

Miskien doen ons deesdae te min fisiese werk. Onthou in ons dae, nou nie mense wat vermoënd was nie, moes ons alles self gedoen het: wasgoed was, stryk, huis skoonmaak, kinders versorg. Kos moes gereeed wees as die pa by die huis kom. Daar was regtig nie tyd om te dink aan dinge wat nie regtig saak gemaak het nie. Ons het dit seker kwellings genoem. Meeste van die tyd was die kwellings maar oor hoe om die sente te rek om die einde van die maand te haal met dit wat jy tot jou beskikking gehad het.

Nou is daar werk met spertye wat nie deur jou bepaal word wat afgehandel moet word. Ma  staan ook in ’n betrekking. Alles loop later aan uit op soveel bekommernis en druk dat dit iewers moet ontlaai. Wie is dan verantwoordelik? Die huisgesin wat loop dan deur en stres kry die skuld. Kinders moet wye draaie loop, want die ouers se senuwees hang aan draadjies en die vonke spat sonder dat jy daarom vra. Kan ons kinders kwalik neem wat hulle al hoe meer onttrek  want hulle weet nie altyd  of dit wat hulle nou gaan sê die lont gaan wees wat die kruit aan die brand gaan steek nie. Dalk is dit net die verkeerde woord wat genoeg is om die stresvlakke nog hoër te laat styg.

Geld is ook ’n groot stresfaktor. Al die dinge wat gedoen moet word met ’n salaris wat net sover kan strek. Die kinders wat nie wil wag vir ’n item wat hulle nou wil hê nie, of soos hulle dink, móét hê nie. Dink nou net aan watter verskonings hulle sal moet uitdink vir hulle kinders hoekom geld nie aan bossies groei nie. Gaan hulle ook “stres” gebruik as ’n uitkomswoord as hulle bekke dik is?

Skootrekenaars, Blackberry selfone, geld wat moet betaal vir pay as you go. Kinders kan nie meer gaan help by supermarkte om trollies te stoot of pakwerk te doen nie. Die Arbeidswet verbied dit. So ma se stres word hemelhoog. Wees verseker van my simpatie maar daar was nie vir ons die verskoning nie. Jy was pleinweg van nonsens beskuldig en is beskou as ’n regte buierige mens om wie mense wye draaie geloop het.

This entry was posted in Leefstyl and tagged , , . Bookmark the permalink.

One Response to Stres

  1. senings sê:

    Ek weet ook van g’n kind of kraai wat stres is nie, en stem saam dat dit een of ander modegier geword het. Dalk omdat ek nie maklik met ander kan simpatiseer of daarvan hou om omring te wees deur mense wat vol stront is nie. Oupa het altyd gesê diegene wat die minste bydra tot die wêreld se vooruitgang, die hardste skree en aandring op regte! Om een of ander onverklaarbare rede dring my vingers daarop aan om ‘n sekere woord te tik, en kan ek die versoeking en druk nie meer verduur nie. So, hier gaan ek; “Luigatte”!!!!!

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s