My lewe as rolprent

Dink jy somtyds as jou lewe uitgebeeld sou word as ’n rolprent? Sal dit vir jou so belangrik wees dat jy weer en weer daarna sou wou kyk?

As ek luister na die geesdriftige praatjies wat partymense meer as een keer na ’n rolprent laat gaan kyk, rol my geheue terug na dit wat ek graag weer sou wou oor hê. Menslik gesproke sal ons almal net die mooi wil onthou. Ongelukkig gaan die lewe nie sonder ups and downs verby nie. Van jou kinderjare onthou jy gewoonlik net al die lekker. Jou lewe wat sonder bekommernis was. Kinders was daar net om te speel en so min as moontlik onder die grootmense se voete te wees. Ons grootste doelwit was net waar ons daardie dag kon gaan speel en hoeveel kattekwaad ons kon aanvang sonder om uitgevang te word. Dit sou seker baie vervelig gewees het vir die kyker, want die aksie sou ontbreek het.

In ons tienerjare het ons maar nog op dieselfde trant aangegaan, behalwe dat ander dinge nou vir ons belangrik geword het. Pligte was nou uitgedeel wat jou verantwoordelikheid was. So is ons stadig ingelui wat vir ons sou wag as ons self huisvrou sou wees. Een ding waarvan ons nie ingelig is nie, was seks. Dit moes jy maar uitvind op jou eie tyd. Onthou gewoonlik was jy al troubaar op 18. As jy ouer geword het, was jy ’n bietjie skeef uitgekyk. As jy dus vir die eerste keer swanger geraak het moes jy maar op die moeilike manier daardie eerste geboorte ervaar. Baie meisies het baie keer gewens hulle het voorheen geweet wat op hulle wag.

Die getroude lewe was nie altyd wat die storieboeke vir jou laat verstaan het nie. Die meet en pas om al die gate toe te stop het ook maar sy tol geëis. Die romanse in die huwelik het ook maar afgehang van die tol wat kind grootmaak en alledaagse bekommernisse van jou geëis het. Baie dae het ons ook maar hoofpyn geveins, tot ergenis van ons mans. Toe het ons ook maar agtergekom dat alles nie net rooskleurig kan wees nie. Woorde moes getel word, wat nie altyd maklik was nie. Daar was probleme met kinders wat hemelsbreed van mekaar verskil het. Hulle kleintyd was ook maklik totdat daardie gevreesde tienerjare aangebreek het. Daar was kopstampery oor dinge waarmee jy nie altyd saamgestem het nie. Job se geduld en Salomo se wysheid het nie altyd gehelp nie.

Voor jy jou kom kry is dit jou beurt om hulle te laat gaan; vir ’n ma seker een van die moeilikste besluite. Nou is hulle in beheer van hulle eie lewens. Sal hulle die mas kan opkom? Was my invloed op hulle lewe van so ’n aard dat hulle die regte besluite kan neem? Wat bly oor? Net die ewige gebed dat hulle nie die pad moet byster raak en verkeerde besluite moet neem nie

Die einde van my rolprent is nie meer ver nie. Ek hoop ek dat ek in alle eerlikheid my afdruk op die wat vir my saak gemaak het kan laat voortleef. Nie ’n vreeslike opwindende rolprent nie maar ’n eenvoudige en opregte weergawe van wat ek was.

This entry was posted in Herinneringe and tagged , , . Bookmark the permalink.

5 Responses to My lewe as rolprent

  1. senings sê:

    Hierdie is nou regtig ‘n lekker onderwerp waarin jy jou filosofiese self maklik kan verloor!

    ‘n Mens se rolprent het eintlik nooit ‘n einde nie. Dis net die rolspelers wat in die opvolg(e) verander. In Klipvrou 2 is jou kinders die rolspelers, kleinkinders in 3 ensovoorts. Hoe sterker jou karakter in die oorspronklike weergawe, hoe langer bly dit voortleef in die opvolg regie.

    En ek weet joù rolprent gaan nie sommer so eindig nie – ek het nou al genoeg van die Kliptannie se “posts” gelees, en sakke vol wysheid en lewenservaring daaruit gesteel en in my knapsak weggesteek, om my oortuiging so windgat te spreek!

  2. murphy sê:

    ‘n Mens kan enige rolprent kies vir jou lewe, solank jy net nie die skurk in jou eie prent is nie!

  3. senings sê:

    Praat jy, Maankind. So ‘n bek moet jêm kry…

  4. senings sê:

    Ek het vir jou ‘n geskenkie onder my dankie-sê kersboom gelos. Gaan haal dit by

    http://senings.wordpress.com/2011/11/23/danksegging/

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s