Blymoedigheid

Elke móre se boodskap deur ons predikers om blymoedig te wees, laat my soms wonder of  almal deur ’n roosgetinte bril kyk. Is daar nooit iets wat pla, krap of jou sommer net laat voel dat die wêreld sy gatkant vir jou gedraai het nie?

Jy word wakker na ’n nag wat vir jou soos ’n ewigheid gevoel het. Kort-kort wakker met ’n dringende behoefte om toilet toe te gaan. Daarna rondgerol om weer te probeer slaap, tevergeefs want nou is jy wawyd wakker. Na jy honderde skape getel het, probeer het om die hele wêreld se probleme op te los, raak jy darem aan die slaap. Dit voel vir jou asof jy net weggedommel het wanneer jy weer dringend die toilet moet besoek. So herhaal die storie hom weer van vooraf. Dan breek die dag en moet jy regtig wakker word. Dit voel asof jy nog glad nie geslaap het nie. Geluk by die ongeluk: ek hoef nie werk toe te gaan nie.

Dit reën en vir die res van die dag kan ons maar net TV kyk. Hoop darem daar is iets meer om na te kyk as die vorige dag.

Na ’n lang kuier moet kleinseun weer terug huis toe. Ek dink dat my gedagtes my laas nag so sleg laat slaap het. Ons sal al die grappies mis, die geselsies wat vir enige ouma ’n hartsverwarmde geleentheid is. Hyhet my gehelp mt die tuinwerkies wat ek nie meer kan doen nie. Gesnoei, steggies gemaak en sommer allerlei dingetjies wat nodig is gedoen. Ek het nie nodig gehad om in my gebroke Fanagalo met die tuinman te moes kommunikeer om te probeer verduidelik wat ek graag gedoen wou hê nie. Nouja, alles kom tot ’n einde en moet ek nou maar wag vir ’n volgende kuier.

Vir die jonges lyk alles rooskleurig, niks kan hulle geesdrif demp nie. Ek verlang na die tyd toe niks vir my ook te veel was nie. Ek was altyd aan die gang. Ons het toe ook gedink dat groot- en oumense regte nat vadoeke was. Ek het ook lugkastele gebou wat nooit gerealiseer het nie. Dit het ook nie saak gemaak nie, die volgende droom was al weer in sig. Baie drome het al vroeg-vroeg gesneuwel. Dit het egter nie ons entoesiasme laat verflou nie want ons het altyd kans gesien vir nog.

Oudword was nie eens naby ons gedagtes nie. Namate die jare aangestap het, die aanslae van die lewe al hoe feller geword het, het my gedagtes ook in daardie rigting begin neig.  As jou kroos grootword begin jy besef dat alles nie net maanskyn en rose is nie. Nou is daar ander wat anders dink as jy. Hulle probleme word ook joune. Nou dink jy ook aan jou ouers wat ook net die beste vir jou wou gehad  het en daardie tyd het jy gedink dat hulle net weer hulle neuse in jou sake steek.

Soos hulle sê, met die grysheid kom die wysheid. Ek weet nou nie of ek kan se dat ek veel wyser is nie. Ek wens net party keer dat ek vir die jonges kan sê: “Maak asseblief jou oë oop voordat jy die sprong waag.” Besluite oor werksgeleenthede, lewensmaats, emigrasie kan baie ander implikasies hê, maar veral keuses van lewensmaats beïnvloed die res van jou lewe.

Toe ek ’n jong ma was het my pa gesê: “Bekommernisse word net al hoe meer. Julle trou, het kinders en hoe groter die uitgebreide familie, hoe meer om altyd op te dra aan die Hoër Hand.” So julle wat nog aan die begin staan van die reis, hou dit maar in gedagte. Ons wil net die beste vir julle hê.

This entry was posted in Oudword and tagged , . Bookmark the permalink.

One Response to Blymoedigheid

  1. senings sê:

    By verre die meerderheid van my kinderjare het ek saam met Ouma en Oupa grootgeword. Ouma was ongelukkig in ‘n rystoel na ‘n beroerte en ek en Oupa moes die ekstra verantwoordelikhede wat daarmee gegaan het, om die beurt hanteer. Ons het heelwat oor die lewe kon filosofeer. Oupa was nie ‘n geleerde- maar ‘n wyse man beslis en het my talle waardevolle lewenslesse geleer. Per geleentheid het hy vir my gesê jy kan gerus na die grys-en blinkkoppe luister want hulle weet hoe smaak sout en kan geen voordeel trek om jou om die bos te lei nie. Ek luister vandag nog na hulle.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s