Geelperskes

Na ’n week sonder son lyk dit darem of ons hierdie week ’n breek gaan kry. Ek is net jammer vir die mense wat kom vakansie hou het en al wat hulle gekry het was reën. ’n Omie het vanmôre ingebel en gekla want hulle hou vakansie in Margate maar dit het so gereën dat hulle voel hulle is op die Titanic.

My gedagtes gaan weer terug na die veertiendae geelperskereën wat ons as kinders nogal baie geniet het. Ons kon sommer vir die lekker in die reën gaan speel het met die modder wat so tussen ons tone deur gekom het. As die sonnetjie dan so ’n bietjie geskyn het, het ons modderkoekies gebak en mekaar betakel sodat ons nie kon waag om ons voete in die huis te sit nie. Ma se blink gevryfde sementvloer moes nie spore wys nie, anders was ons in die moeilikheid.

Die rede wat ek dink dat hulle dit die geelperskereën genoem het, was dat dit gewoonlik saam geval het met die rypword van die perskes. Dink net hoe lekker so ’n nat geelperske geproe het, vars van die boom gepluk.

In my gedagtes is ek weer kind. Niks wat mense sê kan jou herinneringe van jou wegneem nie. Miskien was dit vir my destyds nie so lekker as wat ek nou graag onthou nie, want ons het ook maar gebrom oor die ewige klam klere.

Ma was altyd besig met die verpakking van vrugte wat mark toe moes gaan. Die perskes wat nie aan die standaard voldoen het nie, moes bewerk word. So was daar altyd iemand wat moes snipper of sny: perske blatjang, fyn gesnipperde skyfies vir konfyt of heel perske konfyt. Noudat mens maar tevrede moet wees met geblikte konfyt wens ek somtyds dat ma nog daar was. Niks kan kers vashou by tuisgemaakte konfyt nie. Die blatjang het ons ook sommer as ’n smeer op brood geëet. So lekker was dit.

Gelukkig trou ek toe met ’n man wat in sy latere jare ook graag alles bewerk het wat hy in die hande kon kry. Hy was altyd aan die eksperimenteer, het selfs sy hand gewaag aan die brou van perskemampoer.

Geelperskes is nog steeds my geliefkoosde vrug. Net jammer dit smaak nie soos destyds nie. Mrs Balls se blatjang is ook nie naastenby so lekker as dié wat my ma gekook het nie. Ek wonder wat my kleinkinders daarvan sou gedink het. Hulle dink nou die blatjang met daardie naam is die beste. Ek glo nie jy sal hulle kan oortuig dat dit nie naby oumagroot s’n gekom het nie. Nouja, so kom my lus vir ’n heerlike geelperske na vore, maar gelukkig is daar deesdae voor Februarie geelperskes in die winkels te kry. Aan die ander kant smaak niks meer vir my soos wat ek onthou nie. Dis seker maar my verbeelding, maar nogtans.

Amper vergeet ek van droë perskes en hoe ons dit vasgelê het as ma haar rug gedraai het. Daar was altyd ’n geskarrel om die perskes op die droograkke betyds uit die reën te kry. Maar vir ons kinders het dit gevoel asof dit net gebeur as jy druk besig is om ’n speletjie te speel. Kinders bly mos maar kinders.

This entry was posted in Herinneringe, Kos and tagged , , . Bookmark the permalink.

3 Responses to Geelperskes

  1. MaanKind sê:

    My pa het geskil en pitte uitgedraai, ons moes snipper.

  2. attie sê:

    Sulke “memories” steek altyd vas. Goeie tye.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s