Kinders grootmaak

Babas, bottels en doeke. Ek bekyk die spulletjie so en is bly my pakkery vir ’n kleinding is verby. Die kar se kattebak is te klein om al die babagoed in te pak.

’n Stootkarretjie is ’n moet want sonder die vervoermiddel is dit ondenkbaar dat die baba iewers kan heen. Ongelukkig is daar net te min plek;  so ma se tassie moet maar krimp, want anders is die blaaskansie net ’n nagmerrie. Alles kan bly daar moet net plek gemaak word, want as baba wil slaap moet hy sy karretjie hê om in gestoot te word.

Kyk net na al die hulpmiddels wat vandag se mammas het om die outjie gelukkig te hou. Kontrepsies waar die baba aan die voorkant van die ma se maag gedrapeer word. Nou kan sy maar aangaan met haar werkies, want baba is gelukkig en tevrede. Dit is amper soos toe ons kinders deur die huishulp agter op haar rug gery het terwyl sy die vloere skrop of vryf. Die baba is doodgelukkig want die gewieg van haar lyf het hom gou-gou aan die slaap gesus.

As ek so terugdink aan my kinders se grootwordjare onthou ek net die babas wat maar tevrede moes wees om net die minste aandag groot te word. Daar was nie geld vir allerhande fieterjasies nie. Die baba moes maar tevrede wees om op ’n kombersie te lê terwyl ma die huis skoonmaak. Speelgoedjies was net binne sy bereik gesit en met die gespook om dit by te kom het hy sommer gou-gou begin kruip.

My dogter het nie hande- viervoet gekruip nie, maar het op haar magie geseil totdat sy by haar speeldingetjie uitgekom het. Sy het gereeld soos ’n teertang gelyk met die seilery, maar was gelukkig. Ook het sy glad nie haar mond aan ’n fopspeen wou sit nie en het ook geweier om ’n botteltiet te drink. So is sy op moedersmelk gevoer tot op ’n jaar. Die snaakste van alles is dat sy tot vandag toe weier om melk te drink, nie eens ’n druppel melk in haar tee nie.

Toe kom haar boetie, wat ’n koliekbaba was en aanmekaar gehuil het. Hy het ons tot raserny gedryf. Ek kon hom nooit genoeg laat drink nie. Gelukkig het hy darem die bottel gedrink en kon ek hom grootmaak met koeimelk. Sy ewige skreeuery het toe darem opgehou want sussie het toe al daarop aangedring dat ons hom vir sy ouma moet gee, want ophou huil het hy nooit nie. Nadat ons uitgevind het dat sy geluk van sy vol magie afgehang het, het dinge verander. Sussie en boetie het toe ook darem meer gelukkig met mekaar begin raak. Nou lag ons oor die feit dat sy hom op ’n stadium wou weggee

Kleinboet het nie baie geite gehad nie. Hy was tevrede met sy kos en het maar so tussen die werkery groot geword. Op daardie stadium was pa se belangstelling angeliere. Ek moes blomme reg maak vir die mark en hy het maar so tussen blomblare en -knoppe groot geword. Snaaks genoeg is hy nie vreeslik lief vir blomme nie. Mens sou nou gedink het dat hy in sy onderbewussyn kon onthou van die reuk van angeliere. Ek wonder of hy darem vir sy vrou al ’n bossie blomme gekoop het maar ek twyfel sterk. Waar sy pa ’n manie gehad het oor blomme en die kweek daarvan, het net die middelste kind groen vingers ontvang.

Kinders grootmaak is nie speletjies nie, dit kan ek jou verseker. Maar ek is bly my dae daarvan is nou agter die rug.

This entry was posted in Kinders, Oudword and tagged , , . Bookmark the permalink.

4 Responses to Kinders grootmaak

  1. MaanKind sê:

    As ons iewers gegaan het met ‘n baba, het ons net ‘n bottel en ‘n ekstra doek gegryp en gery. Kleintjie op die skoot. Karstoeltjhies het nie bestaan nie.

  2. Senings sê:

    Ek sien die annerdag ‘n ma wat inkopies doen met drie kleintjies; Een omtrent so drie-vier, die ander een so heupdra size en die derde een in ‘n stootkarretjie. Die groot een neul aanmekaar “mommy, mommy” oor alles wat hy sien, die heupsitter smyt alles van die rakke af sodra ma dit te naby waag en die kleintjie huil toe ook. En Ma handle dit asof dit die maklikste ding in die wêreld is. ‘n Man sou lankal sy toys uit sy eie kot gesmyt het. Indien daar by my enige illusies is, of was, dat vroumense wel kan multi-task het dit daardie dag terstond gevrek! Dank Vader vir vrouens by kinders grootmaak.

    • Toortsie sê:

      Een dag was ek nogals moedeloos met my baba en ek MOES kruideniersware koop, woon 35 km van die dorp af op daardie stadium. So as jy by die winkel kom kan jy nie verbyloop sonder om te koop nie! Ek het my baba in een van die tellers se hand gaan stop en gesê sy moet die baba besig hou dat ek my goed kan gaan uitsoek!

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s