Kersfees kom

Twaalf dae voor Kersfees. Hierdie jaar gaan ons nie so besig wees met kuiergaste nie, want almal gaan in ’n ander rigting met al die skoonouers wie se beurt dit hierdie jaar is om kinders en kleinkinders onder hulle dak te hê. Ek beny hulle nogal. Ek mis die geskarrel en gesels, want ek is op my gelukkigste wanneer daar  gesels word. Sommer oor ditjies en datjies, niks wat jou laat dink aan al die landsprobleme wat net elke dag al hoe meer bekommerniswaardig word nie.
Al die voorbereidings wat elke jaar getref word met die gebak van die kerskoek. Klein koekies is nie meer eintlik nodig nie, want ons het geen kleintjies wat elke vyf minute kom loer of daar nie dalk iets te aas is nie. Want die jongstes is in Engeland en die ander in die Laeveld.
Ons gaan nou hierdie jaar ’n prim en proper Kersfees vier. Ons Kersete is gewoonlik die aand van die 24ste. My  dogter hang uit met haar varkboud, appelmoes en ingelegde kwepers. Daar is nie kalkoen nie want ons is nie een lief vir kalkoenvleis nie, maar daar is ’n ekstra groot plaashoender. Sy is baie lief vir kook, so daar is altyd ’n nuwe resep wat sy uitprobeer. Gewoonlik is dit ’n groot verrassing wat sy  gaan opdien. Ons kan dus nie vooraf sê wat ons gaan kry om te eet nie, totdat ons vir ete aansit nie.
Na ete en wanneer ons almal knuppeldik geëet is en ’n poeding  geniet het, terwyl ons luilekker ontspan, word die geskenkies oopgemaak. Dan mis jy eintlik  die opgewondenheid van ’n groot gesin. Veral die kleintjies wat so ongeduldig is om die pakkies oop te kry. Hulle kan mos nie gou genoeg sien wat toegedraai is nie. Papier wat sommer holderstebolder en sonder seremonie afgeskil word. Nou gaan ons maar ’n stemmige aand hê, geen opgewonde gelag en gewys wat in die pakkie is nie. Ons grotes gaan ons pakkies oopmaak en ewe bedees en verras wees wat die kinders wat nie hier is nie vir ons gestuur het. Ongelukkig is dit mos die beloop van die lewe, jy kan nie jou brood aan albei kante gebotter hê nie. Troos jou daaraan, volgende jaar is dit hopelik my beurt om weer die middelpunt van belangstelling te wees.
Een ding staan altyd vir my soos ’n paal bo water, kinders maak vir my Kersfees en vakansie. Geen mens kan ’n kind se entoesiasme ewenaar nie. Vir hulle is alles so maklik. Geen aansit en pretensie nie. Wat jy sien is wat jy kry, sonder omhaal van woorde. ’n Groot opgewondenheid as die pakkies oopgemaak word, al die oe’s en aa’s as dit iets is wat die kind graag wou gehad het. Na die oopmaak van die pakkies, kan hulle nie gou genoeg vir almal wys hoe die besonderse speelding werk nie, alles in detail so asof  jy regtig nie slim genoeg is om te weet wat aangaan nie. Toegegee hierdie oumagroot is maar ’n bietjie dom wat elektronika betref. Vir my bly dit maar iets om vir die jonges te los. Hulle druk net hier ’n knoppie en daar werk alles perfek. Tot my verbasing. Hoekom kan ek dit dan nie so maklik regkry nie? Is ek maar net so ’n bietjie agter die tyd?
Nou ja, geniet julle voorbereiding en aanloop na Kersfees. Geniet julle kinders en kleinkinders wat saam met julle kuier. Elke oomblik daarvan.
This entry was posted in Kersfees, Somer and tagged , . Bookmark the permalink.

One Response to Kersfees kom

  1. Pingback: Toe herders « OLGA SE OKSELTJIES

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s