Onverwagte gaste

Dit is Desember en nou al lees jy in die tydskrifte hoe mense kla oor onverwagte gaste wat uit die bloute op jou drempel beland. Vir ons in die ou dae was daar nie die gerief van selfone wat jou darem vooraf kon waarsku iemand is op pad daar na jou toe nie. So as die klop aan die deur daar was, het jy gewoonlik nie geweet wie daar was nie. Soos ’n lucky packet.

Omdat ek in ’n huis groot geword  het waar gasvryheid as ’n alledaagse beskou is, was daar altyd plek gemaak vir almal, ongeag hoeveel siele. Krismisbeddens en selfs ’n tent was staan gemaak in die tuin langs die plaasdam. Die hoofslaapkamer is gewoonlik afgestaan aan die oudste paar en pa en ma het maar iewers ’n slaapplek vir hulleself geprakseer. Ons kinders was min gepla want vir die kinders was daar nou genoeg speelmaats.

Die bekommernis oor wat geëet sou word, was glad nie eers ’n gedagte nie. Ons het geweet dat die vrouens wel  ’n plan sou bedink. Gelukkig het niemand ’n besonderse eetplan gevolg nie. Daar is brood gebak, vetkoek en roosterkoek aanmekaar geslaan by die skottelsvol. Daar was nie resepte uit ’n boek gevolg nie. Rys, vleis en aartappels het vir ons altyd gesmaak na koningskos. Sousboontjies en beetslaai was ook altyd op die spyskaart. ’n Vark is sommer tjoef-tjaf geslag en hoenders nek omgedraai vir vleiskos. Die tannies het gehelp met die sny van die varkspek vir kaiings uitbraai, waaraan ons dan heerlik gesmul het saam met pap. Die uitgebraaide vet het baie lekker gesmaak op jou brood, dik gestrooi met sout en peper. Die seuns het die varkblaas skoon gemaak, opgepomp en voetbal daarmee gespeel. ’n Groot joligheid.

Vir my was die hoenderslag nie baie lekker nie. Ons meisiekinders moes die vere van die dooie hoender aftrek. Ek het tot in my tone gegril. Nee het jy nie durf sê nie. ’n Opdrag was ’n opdrag en die mense moes eet. Bruin gebraaide hoender met aartappels, nie hierdie soort wat op allerhande fensie maniere gaargemaak was nie. Gelukkig het ons op ’n plot gebly en was daar nie probleme met spasie nie.

Vir drinkgoed was dit ons kinders se werk om lemoene uit te druk. Vir ons het dit gevoel asof jy honderde lemoene moes uitdruk  om almal ’n glasie te laat kry. Dan was daar ook Ma se gemmerbier en natuurlik koffie.

Ons kinders moes die skottelgoed was en het gebrom oor die berge van koppies, glase en borde wat vir ons soos ’n straf gevoel het. As die kuiertjie verby was en jy weer die huis tot jou beskikking gehad het, het dit amper gevoel asof die mense maar langer moes bly. Nou dat ek ouer is besef ek eers hoeveel my ouers moes opoffer om die gaste tuis te laat voel. Vir ’n kind lyk alles mos maar soos een lang vakansie, geen  bekommernis oor kos, slaapplek of enige  ander probleem wat dalk mag opduik nie.

Nou is die lewenskostes so duur dat ’n mens nie sommer op enige mens kan gaan afpak nie. Maar ons is nog van die ou skool. As daar kuiergaste kom, voorsien jy nog in hulle behoeftes en verwag nie dat hulle moet bydra nie, maar op ander plekke is dit ook vinnig besig om te verander. Nou se dae word jy genooi vir ’n ete en moet jy nie net die vleis, die slaaie en broodrolletjies saambring nie, maar ook jou eie drinkgoed. Voel vir my asof jy maar by die huis kon geëet het.

Geniet julle gaste want dit lyk my dis ook ’n era wat aan die verbygaan is. Een van die dae gaan ons maar net oor die Facebook en selfone kuier.

This entry was posted in Familie, Leefstyl and tagged . Bookmark the permalink.

4 Responses to Onverwagte gaste

  1. MaanKind sê:

    Dis nogal iets waarteen ons baie gewaarsku is teo ons see toe getrek het, onverwagse gaste. Maar niemand het nog ooit onaangekondig hier opgedaag nie.

  2. Ek onthou ook die groot familiebyeenkomste toe die kinders al die skottelgoed moes was en die sleurtakies moes doen. Vandag is dit anders … kinders sit en games speel of mxit terwyl die grootmense al die skottelgoed was en sleurtakies doen🙂

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s