Kerkbasaar

Laasnag was ek so besig om basaar te hou in my drome. Die wakkerword en besef dit was maar net ’n droom was nogal teleurstellend.

In al die jare van kerkbasare was die lekkerste van al die tafels natuurlik die poedingtafel. Ek kan nog onthou hoedat jy nie tussen die verskillende soorte poeding jou keuse kon maak nie: jellie en vla, koekstruif, gemmer en asynpoeding. So ’n groot keuse. Daar was toe nog nie gedink aan al die vet wat op die heupe vergader nie. Toe ek jonk was, was ek in die gelukkige posisie dat ek kon eet wat ek wou maar geen gewig opgetel het nie. Nou, tot my spyt, geld die teenoorgestelde.

Die tombolatafel kan ek nog goed onthou was die gewildste onder die kinders. Daar kon jy iets terugkry vir jou geld. Daar was natuurlik altyd die droom dat jy die groot prys kon kry. Die pryse was maar kleinighede maar dit was vir die deelnemer darem iets om te wys vir sy geldjie.

Die naaldwerktafel was ook ’n groot aantrekkingskrag want jy kon jou voorskootvoorraad aanvul, veral as jy maar lui was om dit self te maak. Ook geskenkies aanskaf vir die vriendinne se verwagte babas: baadjies, booties, en allerhande breigoedjies. Daardie jare was teenette ook ’n groot moet en die ouetehuistannies het die nette pragtig omgehekel. Dit was sommer ook vir ’n net oor die bababed gebruik. Gehekelde kniekombersies en babatjalies was ook besonders gewild.

Met ons omswerwings oor die hele land het ons verskeie plattelandse basaars bygewoon.  Ek kan vir nie vir jou vertel hoeveel pannekoeke ons gebak het nie. Die deeg is sommer in ’n groot plastiekemmer aangemaak en verdeel onder die baksters. Ek dink die tafel was ook die mees betalendste omdat jy nie soveel betaal het vir ’n pannekoek nie. Mens het gevoel jy kry waarde vir jou geld, veral as die gesinnetjie groot was.

Daar was ook vetkoek, beskuit, tuisgemaakte brood. Sulke groot boerebrode wat jy nou nie meer sien nie. Onthou die jaffels wat gemaak was met verskillende vulsels was baie gewild, veral die met die kerrievulsel. Ag, ’n mens se mond water sommer net aan die gedagte.

Die vleistafels was ook baie gewild want daar kon jy tuisgemaakte wors en vleissnitte aanskaf wat nie so duur was as by die slaghuis nie. Die braaiers het jou ook laat proe van hulle geheime resepte en jy kon besluit wat vir jou die lekkerste was.

Nou het vlooimarkte oorgeneem en dit is vir ons ouer geslag ’n gemis aan die bekende gesigte, die gemeenplasies wat ons kon uitruil terwyl ons aankopies maak. Die ware wat aangebied word is ook nie dieselfde nie. Meesal made in China.

Ek sou graag nog so ’n lekker boerebasaar wou bywoon. Maar in ons omgewing word die kerkbasaar vervang met ’n wildsfees in die vroeë lente waar mense wildspotjies en -pasteie maak en vleis braai waarvan almal wat die prys kan bekostig ’n ietsie kan proe. Of daar word een of ander sangfees aangebied met fynproewerkosstalletjies om mense te trek. Nie net ’n gesellige samekoms waar ook dié met dunner beursies en groter gesinne ook ’n bydrae kan maak nie.

Ja, ek weet dat met die waters wat verby is kan ’n meule nie meer maal nie. Droom kan jy wel. In my herinnering is dit nog soos gister, soos gisternag se droom.

This entry was posted in Drome, Herinneringe and tagged , , . Bookmark the permalink.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s