Nuwejaar 2012

Na ’n lang afwesigheid (as gevolg van siekte en herstel, Kersfees en kuiermense), is ek nou weer terug om oor my alledaagse doen en late met julle te gesels. Ek het my vriende in blogland baie gemis en nou kan ek gelukkig weer saam met julle kuier.

Eerste van alles wil ek vir julle die heel beste toewens vir ’n wonderlike 2012. Mag al julle drome en verlanges waar word. Soms is daar ’n kwessie wat onoplosbaar lyk, maar dit het ek besluit moet ek maar aan die Hoër Gesag oorlaat. Hy sal wel die regte besluit neem.

Ek weet nie of julle Nuwejaarsbesluite neem nie maar ek het so by myself aan ’n paar dinge gedink waaraan ek dalk kan verbeter.

’n Mens is mos maar soos ’n donkie, stamp sy kop so ’n paar keer voordat hy sal erken dat hy ’n fout gemaak het. So met nabetragting het ek besluit miskien praat ek te veel. Ek moet meer luister en minder praat. My dogter sê toe dit sal sommer al die eerste dag al ’n gebreekte voorneme wees. Vir my is praat soos asemhaal. Ek soek net iemand om mee te gesels. Gelukkig is ek darem nie so doof dat ek kort-kort moet vra wat iemand sê nie, maar kan soms heeltemaal iets anders hoor, tot groot vermaak van my kleindogter. Nou ja, dit is dan tot daarnatoe.

Ek is nie meer in staat om iets stouts aan te vang nie; so al wat oorbly is dat ek maar soos gewoonlik sal aangaan. Luister en hoor van al die ander mense se goeie voornemens en nou voel ek so half asof ek maar ’n randeier is wat moet kyk hoe hulle dit breek of volhou.

Ons was maar stil en rustig by die huis vir die vakansiedae. Dit was baie lekker om net rond te lê en niks te doen wat dringende aandag nodig het nie. Lekker geëet en natuurlik ’n paar ekstra kilos op die heupe versamel. Dit sal dalk ’n goeie idee wees om te besluit om kleiner porsies te eet en minder tussenin te knibbel. Ai tog, dit is darem so lekker om te eet, veral as die kos so keurig lyk en ons gemoedelik saam met die kuiermense om die tafel kuier. Maar, nou ja, dit lyk vir my so asof die nuwe jaar sommer met ’n “bang” gaan afskop, want ons eerste vier maande gaan gevul wees met gaste. So daar gaan die voorneme al by voorbaat van minder eet. Ek sal maar vroegtydig erken dat dit net ’n pypdroom is.

Die hartseerstories bêre ons maar vir ’n later geleentheid. Ek wil dit maar met die volstruistaktiek benader. As ek minder daaraan dink, gaan dit dalk weg. Soos om ’n magic wand te gebruik. Ongelukkig werk dit nie altyd so nie. Ek het net besluit om so ’n bietjie daarvan te vergeet en dit in die oë kyk wanneer dit nie anders kan nie. Die suur wat saam met die soet van die lewe gaan, kan ons nie altyd vermy nie. As daar net sonskyn is, kom die droogte. Ek het besluit om positief te wees en elke probleem te benader wanneer dit nodig is. Natuurlik is dit makliker gesê as gedaan maar soms gaan mens die bobbejaan wat baie ver agter die berg is, te vroeg haal. Ek sal maar wag totdat hy aan my deur klop en hom dan takel.

Genoeg gepraat, geniet julle dag en wees lief vir jou naaste, ongeag wat hy of sy gedoen het om dalk op jou tone te trap. Vergewe en vergeet.

This entry was posted in Leefstyl, Mense en hul dinge and tagged , , . Bookmark the permalink.

4 Responses to Nuwejaar 2012

  1. seegogga sê:

    ‘N Geseende jaar vol vreugde en goeie gesondheid vir jou. Ons geniet die stories!

  2. MaanKind sê:

    Welkom terug, Klippie!

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s