Karmenaadjie

Die nuwe jaar  is al weer goed op dreef. Ek kan nie help om te wonder wat om die hoek vir ons wag nie. Miskien  is dit ’n beter jaar as die een wat verby is. As mens dan na die radio luister, neig jou moed ’n bietjie laer. Al wat jy hoor is doom en gloom.
Ek besluit net daar en dan dat dit my nie my lewensvreugde gaan ontneem nie  en om elke dag met oorgawe aan te pak.  Ek dam sommer my kamer by en skuif die meubels rond (natuurlik met behulp van Angel en die tuinier).
Ek vee al die spinnekopwebbe weg en kyk deur ’n nuwe bril na wat rondom my gebeur. Al voorspel die doemprofete dat die wêreld aan die einde van die jaar gaan vergaan , gaan ek van die wonderlike goedheid van God geniet. Die jaar wat verby is, was vol slaggate vir my maar wonder bo wonder het ek dit gemaak; so wat sal ek my nou bekommer oor wat dalk gaan gebeur?
Die ou bene wil nie maar daar waar ek nog kan kom, geniet ek die voorreg om nog al sukkelende myself te help.  Dit alleen is vir my ’n groot onderskraging want soos elkeen van ons vrees ek die dag dat ek heeltemaal afhanklik van ander moet wees.  My bewondering vir mense wat onbaatsugtig bereid is om om te sien na ’n partykeer knorrige en klaende persoon styg net ’n aks hoër. Ek bid net aldag dat ek my humorsin moet kan behou en nie alles deur ’n swart waas aanskou nie. Ek wil nog steeds saam met die jonges korswel en grappies maak.
Genoeg oor myself gesê, lê ek vanmôre en dink aan die woord “karmenaadjie”. Vir my is dit soos n suikerklontjie wat ek op my tong kan rondrol. In my jong dae het ons as dit slagdag was vir ons bure ’n karmenaadjie gestuur, netjies toegevou in ’n skoon uitgewaste meelsakvadoek. Dit was dan weggebring deur een van die groter kinders. As die bure dan weer slag dan kry ons weer ons ’n karmenaadjie. Dit was ’n gebruik wat deur almal gevolg is.  Nou se dae is vleis so duur dat niemand meer iets verniet weggee nie. Jy hoor dus maar min van karmenaadjies. Dit is seker ook maar net nog ’n woord wat lateraan gaan verdwyn.
So by myself dink ek ons kinders mis nogal baie. Wat vir my nogal ’n lekker onthou-jy-nog is, kan ek met alle eerlikheid se was so ’n vars geslagte lewer in ’n suursousie. Ons kon nie wag dat dit moes gaar nie. Ma se eerste takie was om dit vir ons te berei met ’n groot skep fynaartappels, wat vir ons natuurlik koningskos was. Nou eet ons nie een meer lewer nie.
My karmenaadjie aan julle vandag is die allerbeste wense vir die jaar wat voorlê. Groete van huis tot huis.
This entry was posted in Afrikaanse taal, Kos and tagged , . Bookmark the permalink.

5 Responses to Karmenaadjie

  1. MaanKind sê:

    Lekker naweek vir jou, Klippie.

  2. Toortsie sê:

    Sterkte vir 2012!! En ek wens ek het naby jou gewoon, dan het ek sowaar vir jou ‘n karmenaatjie gebring!!

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s