Vakansie!

Hier by ons reën dit vanoggend. Nie hard nie maar nogtans baie lekker na die vorige paar dae se erge hitte. Dit voel darem maar baie beter as die humiditeit in Durban. Vir die vakansiegangers is dit seker nie wat hulle bestel het nie, want om nou die kleintjies gelukkig te hou in ’n woonstel of karavaan of tent verg baie geduld.
Ek onthou toe ons aangewys was op ’n tent. Solank die son geskyn het, was alles dood dollies want die kinders het hulle dae omgespeel in die branders of kastele gebou in die sand; mekaar begrawe in ’n sandholte of sommer net rondgehardloop. Ja, ek weet ek kan dit nie vergelyk met vandag se kinders nie want die sit knaend op hulle telefone of iPods. Of andersins paradeer hulle in hulle swemdrag wat partykeer niks aan die verbeelding oorlaat nie. Die winkelsentrums is so gepak dat ons dit maar uitstel om inkopies te gaan doen tot na die vakansie, veral in vandag se weerstoestand. Gelukkig is ons nie naby die strand nie en gaan dit nie so dol nie.
Ek dink nou nostalgies aan die dae wat verby is, die kinders klein en pa besig om sy hengelgerei reg te kry vir ’n maand langs die see in ’n kampterrein.  Dit was nie so modern soos nou nie, eintlik maar primitief. Vir die seuns was dit baie lekker want hulle kon swem en baljaar op die sand tot laat. Hulle het ook soos kaiings gelyk en het ’n onversadigbare eetlus en baie maatjies gehad. As pa dan tent toe kom met ’n paar elwe wat hy gevang het, was hulle dol gelukkig want daardie aand het ons vars vis gebraai op die rooster geëet. Ek sê nou nog vakansie sonder kinders is lekkerder.
Ons het nooit alleen vakansie gehou nie en was altyd saam met familie wat dieselfde as ons gevoel het oor die kampeerdery. Ons vrouens was gelukkig om by die kinders te bly, saam met hulle te swem en kompetisies gehou oor wie die mooiste kasteel kon bou. Moenie vergeet van die skulpies wat ons opgetel het nie. As die weer dit nie toegelaat het dat ons buite kon wees nie, was daar altyd speletjies wat ons kon speel: Snakes and ladders of Ludo. Rummy was ook ’n gunstelingspeletjie.
Toe die kinders groter geword het, het ons maar ’n tyddeelwoonstel gekry want die seuns wou ook soos pa begin visvang. Toe hoef ons nie meer te bekommer het oor wat daar in die aand geëet gaan word nie, want een van hulle sou wel gelukkig wees om ’n vis te haak.
Die vis gaarmaak was pa se afdeling want een ding was seker: ek sou nie skubbe wou afkrap nie. Hy het later in ’n skaflike kok ontluik en kon die heerlikste kerrievis maak; die vis vlek vir vis en skyfies. Alles vars uit die see.
Namate die jare aangestap het, het die hengelkoors bedaar en kon ons ons tyddeeltyd verwyl met ander dinge. Toe die kinders almal uit die huis was, was alleen vakansie hou nie so lekker nie. Die tyd het ook sy tol geëis en die pyne wat daarmee saam kom het ook verhoed  dat ’n mens kon aangaan soos jare tevore.
Na so n terugblik na wat was, is ek sommer tranerig. Net soos die reëndruppels teen die ruite. Lekker om weer vir ’n slag te kon dink aan die dae toe ek nog kans gesien het vir sand tussen alles, en selfs die slakke wat kom inloer het beskou het as deel van die pret. Nou moet ek ’n gemaklike bed hê en alles wat daarmee gepaard gaan. My raad aan almal is om julleself nou te geniet want die dag breek aan dat jy graag nog sou wou. Die gees is gewillig maar die vlees praat ’n heel ander taal.
This entry was posted in Familie, Oudword, Vakansie and tagged , , . Bookmark the permalink.

5 Responses to Vakansie!

  1. MaanKind sê:

    Hmmm, ek verstaan so goed as die vlees ander tale begin aanleer. Gelukkig is jou kop so helder!

    • klippie sê:

      Dis nou een ding waarvoor ek elke dag dankie sê, die dat my gedagtes nog flink is, wanneer ek ook al begin mor oor die ou bene wat nie meer aldag wil nie.

  2. attie sê:

    Carpe diem – gryp die dag. Maak vandag die meeste en die beste van elke geleentheid. Mooi geskryf.

  3. seegogga sê:

    Gelukkig het mens mooi herinneringe. Maar jy is so reg: daardie herinneringe moet ‘n mens maak terwyl jy jonk is, ne!

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s