Ons daaglikse brood

Ek dink vanmôre hoe belangrik brood in ons lewens geag word, veral wanneer ’n mens lees en sien hoeveel keer dit in ons alledaagse omgang genoem word. Soveel spreekwoorde is geskep rondom brood.

Werp jou brood op die water. Nou ja, ek moet sê vir my voel dit altyd of ek tevergeefs brood op die water gooi, want die belofte wat daarmee gepaard gaan, het my nog nooit te beurt geval nie. Miskien doen ek dit verkeerd.

In die sweet van jou aanskyn sal jy jou brood eet. Dit kan ons almal getuig want sonder werk kan jy nie brood koop nie.

Brood breek saam met iemand, is wanneer iets met iemand te doen het. Albei kan dan sy of haar mening kan gee.

Met die witbrood onder die arm kla. Is ons nie almal geneig om daaraan skuldig te wees nie? Ons tel nie ons baie seëninge wat elke dag oor ons pad kom nie. Daaraan is ek natuurlik sommer baie skuldig want as ek kla oor die pyne vergeet ek van al die jare wat ek lekker kon rond beweeg en dit as vanselfsprekend aanvaar het.

Om mooi broodjies te bak. Iemand heuning om die mond smeer as jy ’n guns wil hê.

’n Brood in die oond hê is om verwagtend te wees. Dit is nou iets waaraan ek nooit so gedink het nie.

Jou brood aan beide kante gebotter te wil hê. Dit is darem lekker as dit waar kon wees, want my brood proe vir my partykeer ekstra droog, sonder enige botter aan enige kant.

Brood is iets alledaags: as jy net doodgewoon ’n ontbyt berei, moet daar roosterbrood of broodrolletjies wees. As die kleintjies moeg gespeel huis toe kom, waarvoor vra hulle eerste? Tog net’ n snytjie brood, dan is alles weer dooddollies en kan hulle weer aangaan met dit waaarmee hulle besig was.

Die keuse van brood is ook vandag so groot dat jy soms nie ’n besluit kan neem oor wat om te kies nie: rogbrood, volkoring, gewone bruin of witbrood, gesondheidsbrood, Franse brood, platbrood, focaccia. En dan is daar die verskillende broodrolletjies: Portugese rolletjies, sagte en “crispy” rolletjies, ciabatta, en party spesiale brode ken ek nie eens by die naam nie. So as jy ’n liefhebber is van brood is jou keuse baie groot. Vir my is die lekkerste bederfie ’n vars tuisgebakte brood met baie regte botter. Ek kan gewoonlik nie wag om die warm brood te proe nie. Die reuk van vars gebakte brood laat my sommer honger voel al het ek reeds geëet.

Stel jou voor ’n lewe sonder brood. Vir my is dit nogal ondenkbaar, want ek verkyk my so as my skoonseun saans voor slaaptyd gou ’n snytjie brood met katjiebotter kan geniet.

In ons kinderjare was daar nie allerhande fensie smere nie. Ons moes partykeer maar tevrede wees met ’n lagie suiker gestrooi oor die brood gestrooi. Varkvet op brood was ook ’n groot lekkerte. Natuurlik was ’n sny brood met ’n lang sousie na ete ’n besondere vergunning.

So is daar baie stories te weef om brood, soos die stukkie deeg wat afgeknyp was vir die bak van roosterkoek. Ek kan aanhou om ’n ode te skryf aan brood wat ’n lewensbelangrike en onvervangbare kommoditeit in elke huishouding is. As daar brood is, is daar kos, ongeag van tyd of plek.

Genoeg gesê en gedink oor brood vandag. Ek het juis besluit om minder brood te eet om die vetrolletjies te probeer baasraak.

 

This entry was posted in Kos and tagged . Bookmark the permalink.

2 Responses to Ons daaglikse brood

  1. MaanKind sê:

    In ons familie is daar ook die goeie nuus gister! Een van die niggies het ‘n broodjie in die oond. Lekker dag vir jou.

  2. Kameel sê:

    Waar is die tye van plaasbrood en botter – dit was net vakansietye ons beskore. Die winkelbrood het ek in die middae na skool natgemaak met, van alle dinge… water, en dan baie suiker oorgegooi, hoe gril ek as ek nou daaraan dink. Bly maar daardie broodjies op die water werp, een of ander tyd kom die pot suiker😉

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s