Sonbesies

Die geluid van die sonbesies wat aanhoudend skreeu, neem my terug na baie jare gelede. Op ’n ver pad in die warm Namibiese somer. As mens die venster van die motor oopdraai, is die klank so skril dat dit voel asof dit die hele ruimte binne-in oorgeneem het. Dit voel asof die geluid net harder word en ons mekaar nie kan hoor nie. Die pad is stil want ons is die enigste kar op ’n pad, reguit en plat met bosse aan weerskante. Al wat jy sien is padpredikante met koeëlgate in, wat waarsku dat ’n koedoe dalk enige tyd oor die pad kan kom.

Dit is in die tyd van die bosoorlog. As daar nog voertuie op pad is, is dit net weermagvoertuie met jong troepies op. Almal is net bedag op ’n terroris wat dalk in die ruigte kan skuil.

As die sonbesies net’ n bietjie wil ophou sodat jy darem iets anders kan hoor.  Mens kan ook nie die venster toedraai nie, want die kar het nie lugreëling nie. Onvermydelik moet jou ore maar gewoond raak aan die irriterende geluid.

Eindelik is jy in Tsumeb en kan jy darem ’n lafenissie geniet en bene rek. As jy op ’n sekere tyd in die dorp kom, kan jy maar vergeet om gou by ’n winkel in te gaan om iets te koop. Die siestatyd word streng gehandhaaf en jy moet maar geduldig wag dat die twee ure verby gaan waarna alles dan weer stadig aan die gang kom.

Ons het plek bespreek om oor te slaap in Otavi sodat ons die volgende oggend na ontbyt na Oshakati kan wegspring. Gelukkig is dit darem nou koeler en het die sonbesies ook maar besluit om te siesta. Die hotel is vol soldate en hulle is maar baie raserig, maar ten minste kan jy dan stort om al die hitte en sweet af te spoel. ’n Lekker yskoue bier help ook om jou te laat vergeet van die lang pad.

Na ’n heerlike ete en ’n goeie nagrus sien jy weer kans vir die lang pad wat voorlê. Ons spring weg net na ontbyt, die onbekende in. Vir my nogal ’n ondervinding, want nou sal ek kan ervaar wat die troepies, eintlik nog seuns, moet deurgaan.

Hoe verder ons ry hoe meer weermagvoertuie kom ons teë. Almal is op pad na hulle onderskeie kampe. Dan is jy deur Oshivello binne-in die spergebied. My senuwees knaag maar, want sê nou net ’n terrie gewaar ons?

Nodeloos om te sê, alles het sonder enige voorval verloop tot in Ondwanga. Daarvandaan was dit net nog ’n paar kilo tot by die huis .

In Oshakati was ons ’n hele gemeenskap waar ons ’n ander sy van die lewe ervaar het. Iets wat ek na nabetragting kan sê was vir my ’n groot belewenis:mMortierbomme wat jou snags wreed wakker laat skrik het of ’n nagtelike aanval op ’n nabygeleë skool. Iets waarvan ek nooit sou geweet het as ek dit nie eerstehands ervaar het nie. Daar het ons ook van die troepies onder ons vlerk kon neem en so af en toe vir een of twee ’n tuisgemaakte bord kos kon aanbied.

Nog ’n baksteen in my herinneringsmuur, iets wat die kleinkinders nou amper nie kan glo gebeur het nie.

This entry was posted in Herinneringe, Reise and tagged , , . Bookmark the permalink.

One Response to Sonbesies

  1. attie sê:

    Ons het dikwels in ons tyd in die operasionele gebied die gasrvyheid van die mense daar beleef.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s