Nuwejaarsvoornemens

Die derde week van ons nuwe jaar is ook al iets van die verlede. Hoe gou het dit nie gegaan nie? Wat het geword van al die voornemens vir hierdie jaar? Vir my was dit net gedagtes wat nie gerealiseer het nie.

Die voorneme dat ek minder sou eet, is deur my siekword tog self opgeklaar. Nou voel ek nie eens lus vir kos nie, wat staan nog te sê bekommerd wees oor minder eet. Die besluit is deur my liggaam geneem.

Ek het ook besluit om meer te luister en minder te praat, maar nou vra hulle my of ek dan siek voel. Hoekom sê ek niks? Dit lyk vir my so asof dit ’n mag buite my beheer is wat oorgeneem het. Die kinders is nou my baas, Ma moet meer dit en minder dat dan sal alles weer goed gaan.

Een ding het ek wel besluit: as alles weer onder beheer is, gaan ek die grootste steak wat ek kan behartig, smaaklik sit en verorber. Sonder enige kwelling. Die nagevolge sal ek dra sonder om iemand anders te verwyt. Wensdenkery, dit weet ek by voorbaat, maar ’n mens mag droom.

Hoekom is dit vir mens ’n uitdaging as die woord “moenie” genoem word? Kyk maar vir ou Eva; selfs die slang kon haar dinge laat doen wat sy gesê het sy sal nie doen nie.

Voornemens is vir my lekker om te neem maar by die uitvoer daarvan is ek nie so pligsgetrou nie. ’n Verbreekte reël is gewoonlik my voorland. Toe ek nog ’n kind was, het my ouers gesê dat mens nie vir ’n kind sê hy moenie sus of so maak nie. Dit is kompleet asof jy dan vir ’n hond sê: “Vat hom!”. Want dit is dan presies wat die kind gaan doen. Stem jy egter met alles saam, dan dink die kind dat daar ’n vangslag iewers is. Dit was altyd my ouers se kindersielkunde.

Nou ja, ons pak die dag soos hy hom voordoen. Een kant op, anderkant af. Môre skyn die son weer waar die onweerswolke nou maar dig lyk. Elke dag voel ek beter as die vorige een. Ek kan my selfs verbeel ek sit op ’n sonstoep iewers eksoties, met mense wat sulke la-a-ng mengeldrankies aandra en my met palmtakke koel waai. Ag, sulke goed gebeur net in TV-stories.

This entry was posted in Gewoontes, Leefstyl and tagged , . Bookmark the permalink.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s