Plaasname

Hou plaasname vir julle ook so ’n bekoring as vir my? As ek lees van ’n naam soos Bruidegomsdraai of Moorddrif, wonder ek waar die naam ontstaan het. Vrekgesukkel of Suurbekom kan ek nog verstaan, want dit was seker nie elke dag maklik om kop bo water te hou nie. Putsonderwater of Droërantjies word maklik verklaar want dit dui daarop dat daar baie min water was.

Baie name het dalk in die Depressiejare ontstaan toe alles vir ’n appel en ei verkwansel moes word omdat daar nie geld was nie. Eiers, vrugte en groente is geruil vir ander tipes kos sodat daar darem ’n eetding vir almal kon wees, wat nie altyd maklik was nie, veral as mens met ’n klomp fiemiesrige mense te doen gehad het. Ek moet darem eerlikwaar erken ek weet nie of ek in daardie omstandighede sou oorleef het nie.

Ons het altyd as ons verby ’n plaas gery het die naam hardop gelees en ’n storie daarom geweef. Nou gesels ek en Kleinklippie so en sy sê sy kan haar nie indink om ’n storie in ’n plaasnaam raak te lees nie. Ek sê dit is omdat sy net haar selfoon kan sien en hoor. En dit loop natuurlik weer op ’n stryery uit. Miskien lees mens in die toekoms van Cyberspace of Skype vir ’n plaasnaam. Ag nee, dit klink darem te droewig en dryf my sommer na ’n dop.

 Vergenoeg was seker vir daardie boer net ver genoeg vir ’n dag se reis. Randjiesfontein se naam ontleen hom aan die varswaterfontein wat daar die klippe versteek is en wat vir die huismense ’n uitredding was. Vars water sonder om eers ’n boorgat te slaan was ’n bonus.

So kan jy voortborduur op al die verskillende name: Brakwater waar die water seker so sout is dat ’n lepel sommer vanself regop daarin staan. Kanniedood wat spreek van die eienaar se deursettingsvermoë. Lekker om jou verbeelding te laat gaan, maar is jy reg?

Rysmierbult, Muiskraal of Gatsrand is almal name wat iewers vassteek as jy daaroor lees. Maar waar sal daardie name vandaan kom? Jy kan daaroor dink maar weet nooit of dit regtig die bedoeling was nie. Dankbaarheid en Vrede klink darem of die eienaars meer positief was in hulle uitkyk.

Daar was ook ’n tyd, dink ek, dat almal nie so opgenome was met hulle erfporsies nie, veral as hulle nie die uitskot moes erf nie. Sal die naam Lankgewag dalk verwys na die feit dat die seun lank moes wag voordat hy uiteindelik die baas van die plaas geword het? Dit laat my nogal dink aan die storie van Jakob wat so lank moes werk vir sy Rachel. En Nooitgedacht? Verwys dit dalk daarna dat die erfporsie as ’n verrassing gekom het?

Op plekke, veral in die die Karoo, Kleinkaroo of Moordenaarskaroo kan daar sekerlik baie interressante plaasname voorkom. Ek kom nie daar nie maar ek kan my verbeelding gebruik. Plaasname soos Benoudsfontein, Potloer, Weggooikolk se Leegte, Hongerfontein en Verjaagsfontein of Kruitfontein gee ’n duidelike beeld van hoe die eienaars gesukkel het om aan die lewe te bly. Natuurlik is daar ook verwysings in die plaasname na die volop wildlewe, byvoorbeeld Buffelshoek, Leeukuil, Wolwerivier en Olifantsrivier.

’n Hele geskiedenis lê verskuil in die name. Ek wens net ek het genoeg tyd gehad om dit deeglik na te vors.

This entry was posted in Afrikaanse taal and tagged . Bookmark the permalink.

3 Responses to Plaasname

  1. seegogga sê:

    Ag, ek is mos ook mal oor name van plekker en plase! Dan is daar mos Soebatsfontein, Hotashel, Grootdrink en ne te ver daarvandaar nie, selfs Grootmis! Hier by ons is Hotagterklip, Baardskeerdersbos, Sopieshoogte, Pondjiebotter, Zuurbraak, Nachtwacht, Potberg, ag sommer nog baie mooi en interessante name.

  2. Senings sê:

    Een van die name wat my die meeste interresseer is “Lekkersing”, ‘n klein dorpie net so katspoeg noordoos van Port Nolloth aan die weskus. Eendag lank, lank gelede het iemand daar ‘n lekker partytjie gehou…

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s