My boek

Andermans boeke is moeilik om te lees. Hoeveel keer lees of hoor jy daardie stelling? Wanner jy ’n persoon ontmoet en kyk na die uiterlike, dink jy hierdie mens het nie rede tot enige kwelling nie.

Die buiteblad van die boek lyk so onweerstaanbaar, mooi, goed afgewerk en daag jou uit om nader kennis te maak. Totdat jy die eerste paar blaaie gelees het. Wind, sonder pit. Ag nee, sit dit sommer dadelik neer. Ek het my in die verlede belowe dat ek nie sommer moed sal opgee nie, daarom lees ek want miskien word die storie interessanter. Na ’n paar hoofstukke sit ek dit dan maar neer, teleurgesteld en gefrusteerd.

Is my boek ook maar net so ongeskik vir lees? Verveel ek mense of kan hulle nie wag om die bladsy om te slaan nie? Tagtig jaar se wel en wee, vee ’n mens nie maklik onder die mat nie.

Jy kan jou lewe indeel in hoofstukke. Die eerste paar hoofstukke is die tyd van kleuter tot tiener wannneer die lewe een groot lied is. Geen bekommernisse. Al waarin jy belangstel is of daar genoeg is om te eet. Jy word toegevou in ’n liefdeskombersie en het vrede met alles. ’n Paar onderonsies in jou tienerjare en dis die tyd waar jy vas glo dat niemand jou lief het nie. Dit kom gelukkig ook tot ’n einde.

Die tweede deel van die boek behels waar jy die grootmenswêreld betree. Nou kom jy agter alles is nie net maanskyn en rose soos wat jy gedink het dit sal wees nie. Wanneer jy jou eie besluite neem en jou kop sommer baie hard stamp met die neem van die verkeerde besluite bring die werklikheid skerp na vore. Nee wat, dit bly maar ’n turksvy met baie fyn dorings waarvan jy nie altyd bewus was nie.

Dan stap ’n persoon binne en jy is hals oor kop verlief. Jy luister nie na enige raad of vermanings nie. Vir jou is hy net wat die dokter georder het. Totdat dit die teenoorgestelde bewys word. Sak en as is jou voorland. Trane is jou kos totdat die regte een in jou lewe kom. Dan is alles vergete en jy sien uit na die groot dag. Die troudag volg en babas word gebore met al die bekommernisse en blydskappe wat met kindersgrootmaak gepaard gaan. Lief en leed wat gedeel word totdat die kinders hulle eie paadjie moet loop.

Die derde fase breek aan: leënessindroom. Pa en ma is nou weer bekommerd oor die kroos wat nie meer onder hulle dak is nie, maar definitief nie uit die hart nie. Hulle vreugdes en hartseer word nog steeds deur ons as ouers ervaar. Partykeer wil mens jou neus in hulle sake steek maar mens onthou gelukkig met ’n skok dat ’n stilbek ’n heelbek is. Gee net raad as die kind daarom vra. Ongemerk hou jy maar ’n ogie. Gee stil-stil raad in jou hart sonder woorde. Jou lewe bly maar verweef in hulle welsyn.

Die vierde fase is die tyd om so ongemerk totsiens te sê en vanaf die kantlyn dop te hou. Oupa- en oumaskap is baie lekker en mens kan luister na al die opgewonde geselsies van atletiekspan haal of gekies te word as prefek by die skool. My grootste beloning was om te hoor as een van die kleinkinders vertel: “My ouma kan die lekkerste koekies bak”, of “Ons kan nie wag om ouma weer te sien nie.” Dis maar bra vervelig vir ’n buitestaander maar vir ’n oumahart die nuus wat sy nooit te veel kan hoor nie. Nou is daar al agterkleinkinders en steeds bly dit lekker.

 

This entry was posted in Herinneringe, Oudword and tagged . Bookmark the permalink.

4 Responses to My boek

  1. MaanKind sê:

    Ek lees baie graag jou boek, Klippie. Jy is ‘n wyse vrou en ek geniet jou nugterheid en helder verstand. Ook jou realisme. Dankie vir jou skrywes, dis altyd verrykend om te lees.

  2. Kameel sê:

    Dit is vir my lekker as mense die boek van hulle lewe oopmaak, en dit met ander deel. Elke mens het so ‘n unieke boek, en dit lees so lekker.😉

  3. life is a dish sê:

    Die Engelse woord ‘crone-enregy’ straal uit hierdie mooi stuk skrywe. Ek wens ek het vir jou ‘n mooi Afrikaanse woord gehad om die titel van jou boek te wees. Iets wat al die jare saamvat. Ek wens ek het jou geken.

    • klippie sê:

      Baie dankie vir die kommentaar. Ek is so bly ek het die wêreld van blogging ontdek, anders het ek heeldag met hierdie gedagtes opgeskeep gesit. As mens daaroor skryf, deel jy dit ten minste met ander. Daarom lees ek ook graag wat ander skryf.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s