Huwelikstrou

Hoekom, maar hoekom ontwyk die slaap ons soms? Mens sal ’n slapelose nag hê, rondrol van een sy na die ander, water drink of probeer lees maar niks maak dit makliker nie. Die slaap bly jou ontwyk. Mens wil ook nie opstaan en dan die ander huismense pla nie; so gaan maar aan om die skape oor en oor te tel. Uiteindelik, weet nie of dit van moegheid is nie, raak jy darem aan die slaap. Gelukkig het jy nie nodig om te gaan werk nie en kan jy maar in die bed bly lê.

Dan dink jy terug aan die dae van die opsitkers. Tyd het toe nie saak gemaak nie, wat sê nog slaap. Al wat saak gemaak het was die kêreltjie was daar. Opsit was beperk tot Woensdag en Saterdag. Pa het gou-gou uit die slaapkamer laat weet dat dit nou tyd is om te groet. Ons opsitplek was in die winter, voor die koolstoof op twee regop kombuisstoele. Nie baie gemaklik nie, maar niks het saak gemaak nie want ons was bymekaar. Somertyd as dit lekker weer was, het ons gesels op die rusbank in die sitkamer. Ons het gelukkig nie ’n lang verhouding gehad voordat Klipman die jawoord gaan vra het nie. So kon ons ons skapies bymekaar jaag en ons lewens saam begin.

As ek nou die verhoudings tussen die jongmense so dophou, wonder ek of hulle ooit ’n ernstige gesprek met die aanstaande skoonfamilie gevoer het. Of hulle wonder waar die persoon vandaan kom, wat het van hom die mens gemaak wat hy is? Dit lyk net asof hulle meer gesteld is op die uiterlike voorkoms, wat se kar hy ry en of hy ’n werk het met ’n astronomiese salaris. Dit is die eerste wat hulle jou vertel. Glad te verstane, maar dit is vir my nie die belangrikste ding in die wêreld nie. Werk liewer saam en begin soos ons van die grond af. Geen verwyt oor wat die een in die huwelik ingebring het en dat jy nie so welgesteld was nie. Eerste ding wat jy hoor is hoe goed die outjie daaraan toe is. Ons almal se droom is maar om jou kind getroud te sien met ’n opregte persoon vir wie besittings nie van uiterste belang is nie.

Partykeer hoor jy die uitdrukking van die huwelik is in die hemel gemaak. Ek wonder dan by myself wat dit beteken. Op die oog af lyk hulle maar net soos enige ander paartjie. Baklei hulle nooit, is alles by hulle hunky dory, of gee hulle maar net voor? As daar nie ander mense is nie, kom die maskers darem dan af?

My pa het vir ons gesê: “As jy my gevra het om aan my dogter verloof te raak, is dit bindend, nes ’n huweliksaansoek.” Nou is ’n belofte voor die kansel nie eens meer toepaslik nie, want kort voor lank hoor dat die huwelik misluk het. Egskeiding was iets wat ons geassosieer het met Hollywood. Net soos vir Toortsie, verstom die statistieke my. Waar gaan dit heen?

This entry was posted in Huislewe, Mense en hul dinge, Troue and tagged , , . Bookmark the permalink.

2 Responses to Huwelikstrou

  1. Toortsie sê:

    Toe ons pas getroud was in die middel 1980’s was die statistiek: 1 uit 3
    huwelike misluk. dit het my ANGSWEKKEND gemaak. Ek het 2 broers. Wie van ons drie gaan dit wees? Tot ek die dag besluit het: Tot hier toe en nie verder nie. COME HELL OR HIGH WATER, ek gaan werk aan my huwelik. Ek sal ALS IN MY VERMOë doen, wat dit ookal van my vra om te sorg dat dit werk. en dankie, ja dankie, my pogings, en natuurlik dié van my man, werp vrugte af. Daarmee sê ek beslis nie ons pad is met maanskyn en rose besaai nie. Allermins. Maar ons loop die pad. SAAM vorentoe. Dankbaar.

  2. Pingback: Melancholie | Klip in die bos

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s