Verlange

Die verlange is vanmóre erg na iets en iemand wat ek nie kan definieer nie. Daar kom mos daardie dae wat jy vroegoggend al wens vandag moet daar tog net iets waar kan word van wat jy so in jou binneste graag sou wou hê.

My wens is dat daar onverwags vandag iemand gaan opdaag wat ek lanklaas gesien het. Ek wil gesels oor ditjies en datjies totdat die son opkom, oor goed praat wat nie vir iemand anders belangrik is nie maar vir my ’n wereld van verlange kan stil: Die onthou-jy-nogs wat net vir julle belangrik is. Die sorgelose dae van kindwees, die kwaaijongstreke wat net vir julle snaaks was. Onbenullige dingetjies waarvan mense nie meer wil hoor nie omdat dit vir hulle geensins snaaks is nie. Byvoorbeeld, die komkommers wat ons gesteel het op pad Sondagskool toe, die tameletjie wat ons skelm-skelm gemaak het as ma haar rug gedraai het.

Nee wat, dit klink darem na pure nonsensstories, maar ons kon daaroor lag. Sulke onskuldige insidentjies maak vandag nie meer sin vir ons jongeres nie. Hulle soek meer gewaagde grappies en lag seker agter ons rûe vir die simpel goed.

Onthou die dag toe jy per ongeluk jou skoene verkeerd om aangetrek het en die hele stad vol gestap het met die skoene wat jou so druk dat jy nie gou genoeg by die huis kon kom om dit uit te trek nie klink maar vir hulle power. Dit klink vir my sommige van hulle kan niks verkeerd doen nie. Almal is engeltjies gebore; prim en proper verby. Die ander maak praatjies meer oor hoeveel hulle gedrink het en dan van hulle gekke gemaak het. Nou is ek seker weer sarkasties maar vir my klink dit nie altyd so snaaks nie.

Ons oues kan ook nie saampraat nie want die geselskap raak nou ernstig maar so tegnies dat ons net kan kop knik en hoop dit is op die regte plek. Buitendien gesels hulle maar min want hulle aandag is permanent op die Blackberries en wat daarop aangaan. Ek hoop so in my enigheid dit moet nie ’n blywende tendens word nie. Maar ek skreeu seker teen die wind.

Ek het selfs gehoor van ’n man wat sy vrou ’n keuse gegee het: of die Blackberry of hy, want daar was nie meer tyd vir ’n geselsie tussen hulle twee nie. Die mening van sommige se Facebookvriende tel soms meer as wat die huismense dink. Baie dankie dat in ons tyd daar nog tyd was vir mekaar en daar darem meer interaksie tussen die gesin was. Nou lees mense wat die mede-Facebookers sê en glo meer in hulle kommentaar as wat ons graag sou wou hê.

Vir my voel dit egter asof daar nou meer konflik tussen mense is. In ons tyd was daar goed waaroor ons nie gepraat het nie. Ons het altyd gesê wat tussen julle mure gebeur het niks met jou vriende te doen nie, veral slaapkamerstories. Nou word daar openlik oor gepraat en selfs op Facebook daaroor gespog.

Nou voel ek beter en kan die dag na die beste van my vermoë geniet, al is dit sonder daardie spesiale gas.

This entry was posted in Leefstyl and tagged , , , . Bookmark the permalink.

One Response to Verlange

  1. turksvy sê:

    Mens kan nie met enigeen die drade optel en gesels asof mens nooit kontak verloor het nie. Nou die dag het ek ‘n skoolmaat raakgeloop. Ons het mekaar 26 (!!!!) jaar gelede gesien. En jinne, het ons toe lekker gesels!!

    Ek het ‘n kleintjie dood aan mense wat so boer op Facebook. As mens sien hoeveel keer ‘n dag hulle iets post, dink ek nie daar is tyd oor vir ‘n lewe in die regte lewe nie.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s