Bome

Daar kom gedagtes wat hulle eie paadjie wil loop by my op al wil ek eerder aan iets anders dink. Die dae toe ek nog op en wakker was voel vir my soos ’n tyd wat ek nie meer kan onthou nie.

Waar is die dae toe ’n dag te min ure in gehad het om al die dinge te doen wat ek beplan het om te doen? Daardie tyd was dit soos om ’n lucky packet oop te maak. Altyd iets interessant wat oor ons pad gekom het. Klipman was baie impulsief, so daar was altyd ’n ding wat gaan gebeur waaroor jy nie eens gedroom het nie. Elke dag was ’n nuwe belewenis.

Omdat ons op klein plekkies gebly het, was daar tyd om alles in die omgewing te verken. Ons het byvoorbeeld delwershope gaan uitklim en gedroom het van diamante wat jy dalk kon optel wat die delwer misgekyk het. Helaas het dit nie gebeur nie, maar nogtans was dit ’n wonderlike ondervinding vir die kinders wat op daardie stadium nie eens geweet het van die diamantstormlope nie. Vir hulle was dit net lekker om die gruishope te storm en te kyk hoe lank dit hulle neem om die bopunt te bereik. Hulle kon tussen die gruis vroetel en mooi klippies bymekaar maak. Ons oueres was meer geïnteresseerd in hoe die mense kon oorleef in daardie dorre wêreld. Kyk mens na die foto’s uit daardie tyd, bewonder jy die gesinne wat siel en liggaam op hoop moes aanmekaar hou. Hoop dat daar vandag dalk ’n blink klippie op die sorteertafel sal opduik. Nou is daar net nog so hier en daar ’n bittereinder wat aanhou.

Maar Klipman se lekerste lekker was om ons veld in saam te piekel om al die inheemse bome van naderby te sien. Dit was vir my lekker om die seuns so opgewonde te sien waar hulle tussen die bome rondgehardloop het. Klipman wat beduie van mopani, kiaat, vaalbos, apiesdoring, nieshout.

Omdat Klipman ’n draaibank gehad het, het hy die seuns ingewy in die gebruik van die verskillende houtsoorte. Dan het hulle by die plaaslike meubelmaker gaan afvalhout bedel, sodat hulle hulle eie bakkies, leeslampe en wat nog kon gaan draai.

Die meubelmaker het net die basiese gereedskap gehad, en het dan met die hand gekerf waar hy nie met sy karige gereedskap kon bykom nie. Hy het sy meubelmakery in die Boskoparea bedryf. Ons het toe ’n allemintige groot eetkamerstel by hom laat maak, teen ’n bekostigbare prys. Tambotiehout was my gunsteling, omdat dit so lekker ruik. Ek het agterna gehoor dat jy nooit oor ’n tambotievuurtjie moet vleisbraai nie. Dit krap jou maag glo sleg om. Klipman en die seuns het lekker gespeel met die draaibank, gewedywer oor wie die oorspronklikste artikels kon draai. Gelukkig was daar toe nie televisie of selfone nie. Net lekker gesinstyd saam.

Ons was nooit seker wat ons naweke sou gaan doen nie. Sommer op die ingewing van pa se gedagtes, het ons die besluite gemaak. Bourke’s Luck toe om vir die kinders die potholes te gaan wys en die lieflikste natuurskoon te laat bewonder. Ook om die drie rondawels met hulle eie oë te aanskou of Pelgrimsrus waar die tyd gaan stil staan het. Nou is albei die seuns natuurmense en sal hulle liewer op verafgeleë plekkies bly. Hulle wil niks weet van stadslewe nie, natuurlik tot ergernis van hulle kinders.

Ek kan nou net op herinneringe teer en wens dat ek nog in staat kon wees om op ou spore terug te loop. Helaas, elke tree is nou ’n pyniging. Ek gaan maar terug op my gedagterytuig.

Soms wonder of julle nie verveeld raak met dit waaroor ek skryf nie. Dit is mos maar ’n oumenslaai: trap weer terug op al die spore van die verlede. Vir my bly die herinnerings so helder dat ek my kan verbeel ek ruik weer die houtskaafsels.

This entry was posted in Herinneringe, Oudword and tagged , , , , . Bookmark the permalink.

2 Responses to Bome

  1. seegogga sê:

    Hierdie is kosbare herinnering wat jou kinders en kleinkinders nog jare lank lekker gaan lees. Dit vertel van ‘n kultuur wat nie meer bestaan nie( die dae voor TV) en dinge wagt nie meer gedoen word nie. Dit sal hulle verryk agterlaat en ekdink dis vir jou lekker om die verlede weer teherleef in jou gedagtes. Ek is amper daar en verbeel my ek is ook deesdae meer besig met die verlede as die toekoms. Skryf gerus en geniet dit! Ons geniet dit ook, al lewer ons nie altyd kommentaar nie!

    • johan sê:

      eerste van alles is my spelling up to jy weet wat. 0m van my ouer mense te praat kan jare neem. ek praat van n hartbees huisie met mis vloere beter gedoen as italiaanse teels. n familie was toe nog eeeeeen. dit wat my ma en pa my vertel van dit wat hulle ervaar het is astronomies. die ver loop, die oeste doen,skies dis my pa se kant. ek glo nie ek skryf in die selfde tyd vlak nie, jammer.ouma was n plaas girl van steelpoort iewers en later die benoni lewe ervaar.jammer, dalk nie van toepassing nie, ma ek wou skryf en iemand se

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s