Tem die tong

Die eerste maand van die jaar is verby. Hoeveel van julle dink nog aan die voornemens wat julle gemaak het? By hierdie adres kan ek julle verseker is die helfte al weer op die langebaan geskuif. My idee was dat dit maklik is om iets vir myself te beplan en dit dan deur te voer. Maar ek het nie tred gehou nie met die feit dat dit meer as net ’n bietjie wilskrag kos om by jou voorneme te bly. Groot die ontnugtering, want die kos lyk so lekker, so ek sal maar nog ’n skeppie vat. Ek belowe myself dat ek môre weer minder sal eet. Maar ek swig weer eens voor die versoeking. Daardie ekstra rolletjie om die heupe word net groter.

Van die minder praat en meer luister kom ook niks nie, want ek moet my stuiwer in die armbeurs gooi; ek kan nie net toelaat dat mense nie my mening hoor nie. Agterna is ek spyt maar dit kom mos gewoonlik te laat. Dink nou aan die keer dat my kleindogter weer beter weet as ek en geen hoekoms of waaroms van my kant lok ’n logiese antwoord uit nie. Toe besluit ek dat stilbly nie vir my klaarheid sal bring nie. Ek moet agter die kap van die byl kom. ’n Hewige diskoers volg en eindig in ’n dikbek tiener en ’n verontwaardige ouma. ’n Wag voor die mond besluit ek dan,  maar dit hou net tot ’n volgende keer. Die ou duiwel bly maar listig. So daar gaan my voorneme alweer. Ek dink by myself dat dit darem baie lelik van my was, en dat ek volgende keer twee keer sal dink voordat ek gal afgaan.

Ons ouer garde glo mos ’n kind moet gesien en nie gehoor word nie, maar met die draai van die tye het baie dinge verander. Hulle ja en amen nie net wanneer ouma praat nie. En ek stem saam: hulle is geregtig op hulle mening. So dit is iets waaraan ek maar gewoond moet raak. Later kom vra sy om verskoning en ons is weer groot pelle. Dan besef ek dit was heeltemaal onnodig om so te kere te gaan. Bedwing daardie tong van jou, sê ek vir myself, dit kan net groot skade bring aan ’n mooi verhouding.

My grootste les wat ek geleer het is dat mens nie ligtelik voornemens moet maak wat jy dalk nie kan hou nie. Ek sal my bes probeer om nie so gou my mening te lug nie. Woorde kan baie seermaak en daardie seer word ook nie maklik vergeet nie. Ek onthou nou nog ’n onderwyser se kras woorde aan my, en na al die jare spook dit nog steeds by my. Ek het hom vergewe maar nogtans bly daardie woorde altyd in my onderbewussyn.

This entry was posted in Familie, Gewoontes, Uncategorized and tagged , , . Bookmark the permalink.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s