Klein jakkalsies

Die spreekwoord wat sê dis die klein jakkalsies wat die wingerd verniel, is so waar as wat padda ’n manel dra. Woorde wat onnadenkend geuiter word, het al meer as een verhouding gekelder. Om twee keer te dink is makliker gesê as gedaan. Partykeer dink ek ’n mens praat te gou en beluister nie mooi die woorde van ander nie. Agterna besef jy jy moes maar liewer jou mond gehou het dan het die woordewisseling nie plaasgevind nie. Terugtrek kan jy nie die woorde nie want wat gesê is, is gesê. Ek wou al duisende kere my woorde berou, maar, nou ja, ons is mos maar feilbaar.

Beloftes wat jy maak en nie kan nakom nie is ook een van die sondetjies, want dit is so maklik om iets hart en mond te belowe maar intussen weet jy dit is nie moontlik om daardie spesifieke belofte na te kom nie. Byvoorbeeld wanneer jy beloof dat jy sal kom kuier maar jy voor jou siel weet dat dit nie moontlik is nie.

Wat van witleuentjies om jou uit die moeilikheid uit te hou wat dan boomerang en ’n baie groter probleem veroorsaak. Die spreekwoord wat lui, al is ’n leuen nog so snel die waarheid agterhaal hom wel. Bly maar weg en probeer die waarheid praat want dan hoef jy nie volgende keer ’n nog groter leuen te vertel om die eerste een uit te kanselleer nie. Daar bestaan nie iets soos ’n klein of groot leuen nie, ’n leuen bly ’n leuen.

Jou tafelmaniere kan ook ’n groot struikelblok wees. Die manier hoe jy kou of slurp kan jou geliefde ook so irriteer dat hy of sy nie kan nalaat om ’n neerhalende opmerking te maak nie. Dan is die vet in die vuur en word dit ’n groot issue. Onthou, om ’n appel of ’n harde lekkergoed te kou, klink soos ’n perd wat kou, veral as jy naby jou geliefde se oor kou. Om jou koffie so hard op te slurp dat dit klink asof jy gorrel, is ook nie toelaatbaar nie.

Mens sluk ook swaar aan die ou wat geneig is om die storie wat sy vrou besig is om te vertel, sommer so dwarsweg te onderbreek en sy weergawe daarvan oor te vertel. Hy weet altyd beter en wil nie luister na wat sy sê nie. Hy is ook geneig om alles wat sy sê af te kraak, so asof sy nie weet wat sy praat nie. Daarby kan ’n man ook vergeet om haar te komplimenteer oor haar kos, en alles wat sy doen as vanselfsprekend aanvaar.

Suinigheid is ook n jakkalsie wat lekker kan weglê aan jou huwelikswingerd. Iemand wat altyd sê daar is nie geld vir dit of dat nie, hoe klein ook al jou versoek. Tye is moeilik maar so af en toe kan ’n bederfie wonders verrig. In baie gevalle is daar altyd geld vir bier, maar ma moet maar van haar behoeftes vergeet.

Snork is ook een van die vernielsugtige jakkalsies As jy die aanhoorder is van daardie balkesaery kan dit jou tot raserny dryf. Nou moet ek beken dat ek die een is met die probleem; gelukkig is ek alleen en hoef niemand eksepsie te neem nie.

Daarom draai jou eie jakkalsies gou die nek om, voordat die wingerd vernietig is.

This entry was posted in Mans en meisies, Mense en hul dinge and tagged , , , , . Bookmark the permalink.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s