Die maand van die liefde

Februariemaand, die maand van liefde so beweer die media. Ek weet nie so mooi nie want al wat jy lees en hoor en sien is geweld op alle vlakke van die samelewing. Ag, hoe anders sou ’n mens dit graag wou hê. Meer verdraagsaamheid en respek teenoor mekaar en jou mede-aardbewoners. Slaan ’n tydskrif oop en daar pryk harte oraloor met die heerlikste resepte vir jou Valentine, geskenkies om hom of haar te plesier. Vir my bly dit net ’n geldmaakstorie.

Of is ek ’n nat vadoek? Hoekom kan dit nie elke dag ’n spesiale geleentheid wees nie? Nie met bosse rose of handevol geskenke nie, maar net met jou optrede teenoor mekaar. Sommer net vir hom sy geliefkoosde eetdingetjie maak, of ’n boodskappie in sy toebroodjieblik te sit.

Vir ons ouer garde is dit maar ’n nuwerwetse ding en het ons daarmee kennis gemaak toe ons al ou getroudes was. Omdat Klipman altyd besig was om met een of ander blom te boer het ek gereeld ’n blom saam met ontbyt gekry, nie net op Valentynsdag nie. Nou betaal die mans ’n fortuin vir ’n dosyn rooi rose, wat nog te sê van ’n ete by kerslig in ’n duur restaurant. Sjampanje of vonkelwyn se pryse styg ook hoe nader dit aan die veertiende kom. Die winkelvensters is vol van die mooiste rooi ondergoedjies wat jou geliefde blykbaar as ’n geskenk sal verwelkom. Teddiebere van alle groottes en kleure pryk ook oral. Dit lyk my dié is nie meer so gewild is as geskenk nie; meisies verkies nou eerder duur Belgiese sjokolade.

Selfs die ou kleintjies dra ook vir juffrou ’n geskenkie of kaartjie aan. Nou wonder ek of veral die jongeres alles bedoel wat hulle sê, want hulle kyse hou gewoonlik nie so lank nie. Gee vir A ’n geskenkie of kaartjie maar eintlik sou jy dit liewer vir die gewildste, mooiste meisie wou gee, maar sy sien jou nie eens raak nie. Ek kry hulle maar ook jammer, maar so leer ’n mens. Jare van nou af sal hy sien dat ’n meisie wat vir jou beeldskoon was op daardie stadium maar net soos almal anders vet en minder mooi geword het.

Eetplekke is so lank voor die tyd vol bespreek dat jy maar moet volstaan met ’n ete by jou eie blyplekkie. Jy hoop dit gaan jou maatjie beïndruk: Kerslig, blomme en ’n tafel gedek vir twee, verkieslik in rooi. Gebruik maar haar of sy geliefkoosde musiek as agtergrond. Hierdie jaar is dit ongelukkig in die middel van die week so kan jy nie n piekniek reël nie. Want dan kon jy haar of hom behoorlik bederf het. ’n Regte rottangmandjie met die allerheerlikste versnaperings kan ’n ding doen vir jou.

Geniet jou maand van liefde en bederf haar of hom nie net vir een dag nie maar sommer elke dag. Dit sal sommer nuwe lewe in julle verhouding bring en baie dividende byvoeg aan julle lewe saam. Probeer dit gerus.

This entry was posted in Gewoontes and tagged , , . Bookmark the permalink.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s