Kinders

Vandag besef ek eers ’n mens moet hare op jou tande hê om verhoudings te laat slaag. Toe jy jonger was het jy sommer so holderstebolder besluit jy was reg, en bewaar jou maat as hy of sy van jou durf verskil het. Jy was volgens jou eie mening die een wat reg was. Maar met grysheid kom wysheid en besef jy om die ander wang te draai sou miskien ’n beter oplossing gewees het.

Ek is nie ten gunste van witleuentjies nie, maar partykeer dien dit tog ’n doel. Baie sal met my verskil en sê dat jy ’n ding by die naam moet noem. Dit help nie om daaroor te redekawel nie. Maar sê jy nou vir ’n vrou dat haar agterstewe ’n bietjie te groot lyk in ’n jean, is sy dalk vir altyd vir jou kwaad.

As jou vriendin se kleintjies die sitkamer as ’n speelpark beskou en sy sê nie ’n woord nie, wat is dan jou reaksie? Glimlag jy liefies en sê dat hulle maar kan aangaan? Of ontplof jy soos ’n dreigende vulkaan soos jy immers voel? Ek het nou ’n hoekie soos by die dokter se spreekkamer ingerig met Legoblokkies, tekenkryt en inkleurboekie met hulle eie tafeltjie en stoeltjies vir die kleintjies. Nou kan hulle hulle self besig hou, veral as daar nie maatjies is soos in ons geval nie.

Ons is nou in die oumensfase. Onthou in ons tyd is kinders gesien maar nie gehoor nie. Die bordjies is nou verhang, die kinders spring vir die beste sitplekke en voer ’n harder gesprek as die grootmense. Dan wonder jy of dit nie die ma pla as die kinders so oorneem nie? Omdat baie mense in woonstelle bly, besef ek daar is nie altyd plek vir kinders om te speel nie, want nie alle woonstelle is op grondvlak nie. Speelplek is maar so tussen die meubels deur, tensy daar ’n parkie naby is waar hulle kan hardloop en swaai en wegkruipertjie speel. Om aan ’n speelgroepie te behoort is ’n uitredding vir enige ma maar ongelukkig is dit nogal duur.

Jy sal nie graag jou vriendskap met jou vriendin wil verloor nie, so wat maak jy? Nooi haar vriendelik om weer te kom kuier en hoop heimlik dat sy nie volgende keer die kinders sal saam bring nie. Dit is mos skynheilig, of so voel dit vir my.

Dan dink ek terug aan my eie sorgelose kindertyd en kry hierdie geslag baie jammer. Speelplek was baie en ons was nogal bly as daar kuiermense met kinders gekom het sodat ons na hartelus kon baljaar. Ons het nie al die nuutste speelgoed gehad nie, en het sommer ons verbeeldings gebruik. Winkel-winkel gespeel met leë blikkies, botteltjies en garetolletjies. Klippies en glasstukkies was ons geld en so kon ons ure aan mekaar besig bly. Ons was baie bly as ma roep dat ons ’n paar droe koekies en ’n aanmaakkoeldrankie kon kry en as ons gelukkig was, tuisgemaakte gemmerbier. Ons het ook lekker albaster saam met die seuns gespeel of tou gespring. Ons was in ons element, want ons geweet solank die mense kuier sal ma sal nie vir ons ’n werkie bedink wat ons dadelik moes kom doen nie. So het tye verander en sê die kinders die ouers voor wat hulle moet doen of nie doen nie.

This entry was posted in Herinneringe, Leefstyl and tagged , , , . Bookmark the permalink.

16 Responses to Kinders

  1. Dinge het so verander dat ek al amper bly is dat my kinders al uit die huis en amper uit die huis is. Mens kan net nie byhou nie!

  2. MaanKind sê:

    Dankievader tog my kinders is groot. Maar hulle sukkel meer met daardie kleintjies wat so oorvat.

  3. Ek het eendag saam met ‘n vriendin by haar huis gekuier. Ek is die oudste kind van 4 en sy is ‘n enigste kind (ons was altwee al in ons 20’s). Haar aanstaande skoonfamilie se kinders was daar en hulle het my vriendin mal gemaak. Ek daarteen was glad nie geirriteerd met hulle nie. Ek dink wat ek probeer sê is dat party mense net makliker cope daarmee as ander.

    Baie van my vriendinne of familielede het nou babas of jong kinders. En ja, die kinders speel maar so tussen ons deur. Hier en daar word ‘n grootmens se aandag vir ‘n oomblik in beslag geneem, maar dit vrolik tog die geselskap op. Ek hou nogal daarvan.

  4. Klippie

    Jy raak graag nostalgies oor die verlede en hoeveel beter dit in sommige opsigte was. Wat van ‘n post wat die hede beter het as die verlede? Soos bv dat ‘n mens nie meer in ‘n bank moet tou om geld te trek nie? 😉

  5. Toortsie sê:

    Die kinderhoekie idee van jou klink fantasties! Op die oomblik kom hier nie soveel klein kindertjies by my kuier nie, maar dit sal seker weer begin. Ek maak gewoonlik maar net vir daardie tydjie die vertrek waar ons sit, meer kindervriendelik, deur van my waardevolle goed ‘n bietjie hoër te sit. Ek sê dan vir die ma dat ek dit hoër sit, dan kan ons almal lekkerder kuier en ontspan.

  6. Toortsie sê:

    Ai tog!😦 ek is darem al so grys soos iemand wat 80 is!

  7. Toortsie sê:

    NOU WEET EK!! Klippie, Xena sê ek mag nie oor die goeie dinge van nou skryf nie. Maar as jy joune skryf en my “tag” en opdrag gee, mag ek jou mos nie weier nie, of hoe???😉

  8. Klippie

    Gaan dinge nog goed by jou? Mens verdwyn darem nie net so in die blou lug nie.

  9. Toortsie sê:

    Klippieeeee!! Waar is jy???
    Ek het ook ‘n versoekie vir jou! Wil jy, wie nou al die pad met volwasse kinders, nie vir ons ‘n bietjie daaroor skryf nie. Wat moet ons as ouers doen en wat moet ons nie doen nie? Wat het gewerk vir jou en wat nie?
    Dankie!
    Hoop jy’s gou weer terug.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s