Nuwerwets teenoor outyd

So ’n ruk terug het Xena gesinspeel dat ek met ’n roosgetinte bril na die ou dae kyk en nie die goeie goed wat deesdae gebeur raaksien nie. Nee, daar is baie dinge wat dalk beter is as die ou dae moet ek toegee maar ’n mens wat ouer word leef maar graag terug in die tye wat kosbaar was en wat jy nie kan terugkry nie. So moet julle maar geduldig wees met die gedagtes wat so al terug neig op die pad wat alreeds geloop is.

Daar is byvoorbeeld die skottelgoedwasmasjien wat een van die dinge is wat ons nie gehad het nie. Nou word daardie sleurwerk wat so baie tyd in beslag geneem het sommer tjoef-tjaf afgehandel en ’n deurmekaar kombuis lyk sommer gou better. Nou hoef mens nie vuil potte op ’n Sondagmiddag in die stoof se oond weg te steek voor die kuiermense kom nie.

Daar is ook die wasmasjien wat vinnig klaarspeel met ’n bondel vuil wasgoed. Dan dink jy hoe jy oor die wasbalie gebuk gestaan het om die wasgoed met die hand te was. Onthou toe was dit nog katoenlakens en nie hierdie nuwerwetse materiaal wat sag werk het met jou hande nie, en ook nie seeppoeier nie maar boerseep of blouseep wat ons moes gebruik het. Droogmasjiene en elektriese strykysters is ook vir my ’n groot verbetering. Ek is nie juis ’n voorstaander van weggooidoeke nie, maar as ek dink hoe ’n vrag doeke jou hele oggend opgevreet het met die was daarvan, besef ek die voorstel wat nuwe mamma’s het. Daar is baie te sê vir al hierdie nuwe dinge waarsonder ons moes klaarkom en natuurlik is ek dankbaar vir al die goed wat die lewe soveel makliker gemaak het.

In die kombuis het jy klitsers, mengers en wat nog wat broodbak maklik maak en jy onthou die deeg wat deur jou hande gegaan het. Waar ons tyd vir alles gekry het kan ek nou nie aan dink nie maar daar was altyd beskuit en kleinkoekies in die spens. Totdat ons ook begin buitenshuis werk het.

Daardie dae het ons nog Saterdae ook gewerk en kon ons toe ook een van daardie wasmasjiene bekostig sodat ons Saterdae na werk die wasgoed kon was. Gelukkig het pa en die kinders wat toe groter was kon help om die werk gedoen te kry. Daar was darem die tuinwerker wat gehelp het om die vloere blink te vryf en die koolstoof skoon te maak. Dit het baie gehelp. Die kinders het beurte gemaak met skottelgoedwas. Kort daarna het die nuwe werksweek in werking getree en het ek net vyf dae per week gewerk en het dit ons meer tyd as gesin saam gegee en ook meer tyd om aan ons huis te spandeer.

Ek kraak nie die nuwerwetse tye af nie, vergelyk maar net hoe dit toe was en hoe dit nou is. Daar is dinge wat altyd maar vir ons ouer garde vreemd voorkom omdat ons dinge anders gedoen het as waaraan julle jongeres gewoond is.

This entry was posted in Gewoontes, Huislewe, Leefstyl. Bookmark the permalink.

9 Responses to Nuwerwets teenoor outyd

  1. MaanKind sê:

    Die lewe was verskriklik anders in my kinderdae as nou. Dit geld ook vir die manier hoe mense met mekaar praat. Ouderdom, ‘n professionele tite en familieverwantskap het bv status gegee aan jou as mens. Deesdae gaan dit meer oor wie jy IS. Of nie?

    • klippie sê:

      Natuurlik was daar dinge in die ou dae wat ons nou aflag, soos dat die predikant gewoonlik ’n trappie hoër as die lidmate in die kerk was of dat niemand die onderwyser se uitsprake bevraagteken het nie. Die kat is toe ook in die donker geknyp en geld is ook deur vooraanstaande prokureurs verduister.

      Miskien is die oudae maar net ’n wêreld wat ek beter ken en waarin ek my nou op my oudag meer tuis voel. Toe ons kinders was het ons verveeld geraak met my oupa se stories oor sy kinderdae. Maar ek verstaan nou dat hy ook ’n hunkering gehad het na dit wat vir hom bekend was en, bowe-al, na geliefdes wat nie meer daar was nie.

  2. 😉 Lyk my ek was alweer (nogsteeds?) ‘n bul in ‘n Chinashop.

    Ek het met my versoek nie probeer om kritiek te lewer op wat jy skryf nie. As ek nie daarvan gehou het nie, was ek nooit hier nie. Ek het eerder gewonder of daar van vandag se gebruike is wat vir jou beter is as in die die verlede.

    Ek is bitter dankbaar dat ek juis nou lewe. Ek sou die heks van die dorp gewees het as ek 50 jaar terug moes gelewe het. 150 jaar terug sou ek waarskynlik op ‘n brandstapel opgeëindig het.

    • klippie sê:

      Ek probeer ook nie sê jy is verkeerd nie. Baie dinge is vandag beter, nie net die hulpmiddels in die huis nie. Byvoorbeeld, vrouens wat ’n loopbaan kan volg en op hulle eie kan gaan reis sonder dat mense daaroor skinder. En dat elkeen geregtig is op sy of haar eie mening. Maar soos ek vir Maankind gesê het, die outyd voel vir my net so gemaklik.

  3. seegogga sê:

    Maar ek wil tog iets se: So what! So what as ons net die mooier dinge van die verlede goed onthou en dit veromantiseer. Dit maak mos ons gedagtes meer aangenaam, en dus maak dit ons gelukkiger, en dus is ons vriendeliker ens ens. Hierdie stories van lank gelede , wat ons almal in ons kop het, is ons manier om terug te dink aan die tye toe ons jonk en mooi en verlief en vol energie was, ‘n mooi tyd in ons lewe, en lekker om dit te onthou en die slegte dinge( wat daar toe beslis was) bietjie te ‘vergeet’.

  4. Pingback: My kop steek vas in die verlede | Klip in die bos

  5. Senings sê:

    Jou geheue en herrinneringe is die enigste sfeer waar jy onbeskaamd die dinge wat jy daar WIL hê kan rankskik en rangeer soos wat jy wil, by ABSOLUE onstentenis van enige iemand se permissie of raad. Dis asof die Hemelse Vader vir jou die geleentheid gee om Skepper te wees – na goeddunke. Kliptannie, rangskik daai heimwee en gemaksones nes dit jou pas, en geniet dit! Eendag, eendag sal sal diegene wat nou minder grys hare het, waaronder ek myself ag, verstaan waaroor die ordeninge (en verordeninge) van hierdie “heilige” sfeer gaan.

  6. Pingback: Nou? Of toe? | Toortsie, Kameel en Bokbaaivygie

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s