Sleutels

Hoekom kan mense nie onthou waar hulle hulle sleutels neergesit het nie? Daar word spesiaal ’n rakkie aangebring teen die muur waaraan die onderskeie sleutels moet opgehang word, insluitend plek vir jou motorkarsleutels. Maar, nee, elke oggend word daar gesoek na karsleutels. Die stoelkussings word omgekeer en agter die banke gesoek maar die sleutels is net skoonveld. Almal hardloop heen en weer en krap alles om op soek na die sleutels. Handsak word omgedop en broeksakke word weer en weer bevoel maar die sleutels is net weg. Humeure styg en die tyd stap aan. Pa is skuldig want hy het nie die reël gehoorsaam om die sleutels op hulle plek teen die muur op te hang nie. Uiteindelik word die sleutel opgespoor op ’n plek waar nie een gedink het dit sou wees nie en kan die pad gevat word.

Nou wonder ek wat ’n toeskouer is wat dit help om ’n reël in te stel wat jyself nie gehoorsaam nie. Môre word die hele storie herhaal met ’n sleutel wat alweer soek is.

Vir my dogter is dit gewoonlik die parkeerbewys by die winkelsentrum wat soek is. Dan word die handsak omgekeer en gekrap vir ’n vale om daardie kaartjie in die hande te kry, Dit het haar al oorgekom dat wanneer sy die parkeergeld gaan betaal by die outomaat sy die kaartjie daar vergeet. Kom by die kar en nou is die vergalste kaartjie soek. As ons saam met haar is, vra ons of sy die kaartjie het, anders moet sy weer teruggaan om die kaartjie te gaan haal waar sy dit vergeet het.

Dit laat my dink toe ek nog ’n jong ma was en ’n man gehad het wat nie simpatiek was nie met ’n vergeetagtige vrou wat baba se doekesak vergeet het. Dan, so vyf kilometer van die huis af, moes ek vra dat hy moet terugdraai om die dit en dat se sak te gaan haal. Daarom maak ek altyd seker dat ek alles het wat ek moet hê, want my ore het baie kere gebrand oor my vergeetagtigheid.

Ek was ook altyd seker dat ek vergeet het om die strykyster of ketel af te skakel. Dan het ek altyd gedink ons sal ’n afgebrande huis kry by ons terugkeer. Ek moes maar net my mond hou want Klipman sou net gesê het: “Jou verbeelding werk alweer oortyd.” Dit was gewoonlik waar.

Deesdae is die selfoon weer altyd soek maar dan kan iemand darem jou nommer skakel en kan jy dan op die gelui af soek. Ek wens net hulle kan dit met motorsleutels ook doen. Dink net hoeveel emosies sal gespaar bly in operasie sleutelsoek.

This entry was posted in Gewoontes and tagged , . Bookmark the permalink.

One Response to Sleutels

  1. turksvy sê:

    Jy praat nou NET met my! 😆
    Dis sommer pure luiheid om jou sleutels net neer te gooi as jy by die huis kom. Ek weet!

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s