Vooruitgang

Hoekom het die groot inkopiesentrums so ’n bekoring vir ons tieners? Is dit omdat daar so ’n groot verskeidenheid winkels is en as jy daar rondbeweeg dit vir jou ’n nuwe wêreld oopmaak? Alles waaraan jy kan dink is daar, ’n verskeidenheid wat alles onder een dak aangebied word. Die gebou op sigself is imponerend met breë gange en ruim winkels. Dit nooi jou eintlik uit om ’n draai daar te kom maak. Alles onder een dak. Eetplekke wat jou nooi om daar te gaan sit en die geroesemoes gade te slaan. Die heen en weer geskarrel van alle ouderdomsgroepe, elkeen op sy eie misie.

Met ons verskeidenheid van mense en inkomstegroepe is dit nogal opvallend wie nou eintlik die sentrums besoek. Op vakansiedae en naweke is daar so ’n aanloop van jonges wat lyk asof hulle net drentel en op soek is na iets wat hulleself nie weet nie. Die ouer geslag gaan net om die nodige te bekom en as dit nie naby jou blyplek te kry is nie.

Ons inwoners van ’n stad aan die kus gaan nie soheentoe in vakansietye nie want dan kan jy nie daar beweeg nie. Parkering is ’n nagmerrie en daarom die besluit om liewer maar die klein winkeltjie in jou eie omgewing te ondersteun.

Of ons al die blink winkelsentrums nodig het, bly vir my ’n ope vraag. Ek weet dit is lekker om die ruim winkel te besoek want daar is ’n groot verskeidenheid van ware te kry sonder om kilometers ver te ry. Alles onder een dak. Eers was daar net ’n paar sulke eksklusiewe winkels maar nou het elke voorstad sy eie. Een beswaar is natuurlik dat daar te veel winkels en te min koopkrag is en nie almal kan ’n bestaan maak nie.

Vir die kinders is dit natuurlik nie ’n kwessie nie; al wat hulle soek is ’n plek om mekaar te ontmoet. Gewoonlik is daar ook darem ’n fliek waar hulle dan kan ontspan en agterna ’n ietsie kan drink. Anders as by die huis is daar nie baie plekke waar hulle bymekaar kan kom nie. Nou drentel hulle maar van winkel tot winkel. Ek praat dit nie goed nie want vir my bly dit maar ’n euwel. Soos ek al voorheen gesê het, tye verander. Dis lekker vir die jonges om mekaar by die Mall te ontmoet. Ek daarenteen sou graag wou gehad het dat hulle liewers by die huis moet bymekaar kom.

Winkelsentrums dien sy doel maar vir my bly die ou vertroude winkel hier naby maar steeds die beste. Ek dink aan die dae toe mense op voornaamterme met die winkel-, slaghuis- en groentewinkeleienaar was. Die een voordeel van die sentrums is dat ons nou nie meer stad toe hoef te gaan vir noodsaaklikhede nie. Alles is mos nou onder een dak, van die hardeware tot die boekwinkel. Groter supermarkte ding met mekaar mee en jy het darem ’n groter keuse om die beste kopie uit te soek.

Nou ja, dit is die weg wat alle ontwikkelaars volg en daarom is daar eintlik ’n ooraanbod van winkels. Hoe groter en weelderiger die sentrum, hoe groter die aanloop. Ou vertroude winkeltjies verdwyn en nuwes verskyn. Net soos verskietende sterre. Vandag hier, môre weg. Maak plek vir iets anders en meer byderwets. So meet hulle vooruitgang. Partykeer is die inwoners nie daarmee gediend nie maar sodra die stadsbeplanners die groenlig gegee het, verrys daar nog ’n groter winkelsentrum. Hier in ons eie omgewing is hulle nou weer besig om die plek waar ons Saterdae môremark gehou het op te kommandeer as ’n plek waar die volgende Mall gaan verrys. Tot ons misnoë.

This entry was posted in Gewoontes, Keuses, Kinders, Leefstyl and tagged , , , . Bookmark the permalink.

One Response to Vooruitgang

  1. Sparkle sê:

    Toe ek jonger was, was Mall toe gaan vir my ‘n lekkerte (veral as jy ‘n paar maande gespaar het om ‘n paar stukke klere te gaan koop) maar deesdae gaan ek net as ek iets spesifiek by ‘n winkel moet kry. Ek dink, soos jy se, vir jongmense is dit lekker om mekaar in malls raak te loop en so bietjie saam “uit te hang.”

    In Hartenbos was daar ook sprake van ‘n mall en selfs ek was redelik vies oor die storie want die plekkie sou baie van sy vakansiedorp karakter verloor het.

    Laat ons liewerste nie eers begin praat oor ontwikkelaars wat lee erwe in woongebiede opraap en daarop woonstelle bou nie!

    Ongelukkig is die mensdom gulsig en van die ontwikkelaar tot die inkopienaar hou van h^e.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s