Kuiergaste

As ek so lees van party mense se ondervindings met kuiergaste wat sommer opdaag en vir ’n week of twee bly is dit nogal vir my ’n openbaring. In die ou dae was dit nie snaaks nie. Jou gaste het sommer uit die bloute opgedaag sonder dat jy bewus was van hulle koms. Onthou toe was gesinne ook nie van die kleinste nie. Baie kere was dit nog die ouma en oupa wat ook saam kom kuier het. Inderhaas moes daar slaapplek ingeruim word met kermisbeddens vir die kinders, wat hulle nogal baie geniet het. Ons kon toe lekker nonsies verkoop en die kleintjies bang maak met spookstories.

Die grootmense het die beddens beset, volgens senioriteit. So het ouma en oupa die hoofslaapkamer gekry en moes die ander maar maak doen met die enkelbeddens in die kinderkamers.

Vir ons kinders was dit soos vakansie want nou was daar genoeg maats om kleilat mee te speel of om sommer die tyd om te kry met allerhande speletjies waarvoor daar nou genoeg kinders was. Ons het, as die weer dit toegelaat het, almal sommer in die plaasdam gaan bad en in die son droog geword. Ons was so vuil van al die spelery in die modder en klei dat ma nogal bly was dat die ergste vuil darem af was.

Die verskil tussen toe en nou was seker maar die feit dat almal saam gekuier het. Die kokery was gedoen deur ma, ouma en die tannies en was daar nie iets soos nou dat die kuiermense van die gasvrou verwag om alles alleen te doen nie. Almal het hulle deel gedoen. Gesorg dat die beddens opgemaak is voordat die kuier sommer vroeg al om die ontbyttafel begin.

Pa, oupa en die ooms was gou-gou doenig met allerhande dingetjies wat net mans kon doen. Ons kinders het ons uit die voete gemaak voordat die grootmense besluit daar is werk vir ons om te doen. Gelukkig was die spruit naby genoeg om na toe te verdwyn.

Ons het net huis toe gekom as dit tyd was vir middagete want ons was so honger soos wolwe en kon enigiets voor die voet verorber. Kos was toe nie ’n probleem nie want alles was tuis gekweek. Groente en vrugte in seisoen was volop. Wintertye was ietwat van ’n probleem maar dan moes daar gedoen word met ingelegde vrugte, droë boontjies, stampmielies, kool en ander wintergroentes. Ouma-hulle het boerbeskuit en droë koekies by die blikke vol saamgebring en ons kon ons sakke volstop voordat ons weer verdwyn vir die tyd tussen middag- en aandete.

Na aandete het ons huisgodsdiens gehou en daarna het die grootmense gekuier; hulle stories het nooit einde gekry nie, of so het dit vir ons gevoel. Ons kinders was pootuit en het met graagte ons beddens op die vloer oopgesprei en kort voor lank was die kleinstes al vas aan die slaap.

Vir ons as kinders was die kuiertyd te gou verby. Ma en pa was miskien bly dat hulle darem weer hulle bed kon opeis.

So stap die tyd toe aan en word ek groot en trou. Nou word die bordjies verhang en met die dat ons altyd op die verste uithoeke van Transvaal gestasioneer was, het die familie sommer vir lang tydperke kom kuier. Toe was dit ons wat moes prakseer oor slaapplek en etes vir almal. Om vrede te bewaar tussen die jonges en die oues besig te hou. Die vrouens kon almal lekker kosmaak.. Die mans het almal gehelp by die braai. So het dit regtig ook vir ons ’n lekker kuier geword en het ons opgesien dat die kuier moes einde kry. Nou dat ek oud is, verlang ek terug na die spontane kuiertjies van destyds.

This entry was posted in Familie, Herinneringe, Leefstyl and tagged , , , . Bookmark the permalink.

6 Responses to Kuiergaste

  1. Vir mense by die see het kuier nou ‘n heel ander betekenis – veral as sommige mense net afpak, niksdoen en geen bydra maak nie. Ek het ‘n vriendin wat nooit gaan vakansie hou as sy nie by mense kuier nie… sug… maar dan vat sy ook nie eers haar beursie saamneem as ons gaan koffie drink nie.

  2. MaanKind sê:

    Ek het ook daardie kuiers geken. Net so.

  3. Toortsie sê:

    Ek hou van gaste, maar nie vir so lank nie!!

  4. seegogga sê:

    my ma( op Struisbaai) het altyd vir haar Vrystaat vriende gese dat hulle enige tyd van die jaar baie welkom is om te kom kuier- net die Desemdervakansies nie.

  5. murphy sê:

    Ek dink tye het so verander dat sulke kuiers amper nie meer moontlik is nie. Ouers werk nou gewoonik albei en vir weke se andermense entertain is daar net nie meer geduld of kans nie. ‘n Mens kry ‘n paar weke in die jaar vakansie, en as jy dan nog ander mense in jou kosbare gesinspasie moet toelaat, kan dit knyperig raak.

    Ons is ‘n private gesin, ons familiebande is nie baie heg nie, deels uit keuse en deels as gevolg van omstandighede. Die lewe het vir ons maar so verloop. Die idee dat ek vir weke by iemand moet gaan afpak in hulle huis laat my skoon benoud voel.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s