Somertyd, waatlemoentyd

Dit is waatlemoentyd en mens sien net die heerlike vrugte wat oral aangebied word. Vir elke smaak maak hulle mos deesdae ’n nuwe variëteit. Party is sogenaamd pitloos. Ek vra toe my dogter wat versot is op waatlemoen sy moet vir ons ook een van daardie nuwe soorte koop sodat ek kan sien hoe dit lyk. Vir my wat amper ’n eeu oud is kan ek nie dink dat daar ’n waatlemoen sonder pitte kan wees nie. Ek kan goed onthou hoe mens klop-klop probeer vasstel het of die vrug darem ryp is voordat jy dit kon oopsny. Die kleur van die skywe was so uitnodigend rooi en die pitte so baie dat jy dit afskraap of sommer uitspoeg so ver as wat jy hap.

Omdat ek nie meer baie winkels toe gaan nie, bring sy toe vir ons een van die nuwe soorte. So ’n kleinerige vrug, wat sy toe vir my sê jy kan kies watter kleur waatlemoen jy wil hê, want daar is verskillende soorte. Die besonderse een wat sy toe bring lyk soos ’n ronde bal, groen aan die buitekant en die binnekant soos ’n outydse waatlemoen, behalwe dat dit nie die kenmerkende swart pitte het nie. Ek het maar ’n versigtige hap gegee en was verbaas dat dit net so lekker gesmaak het soos die ouer weergawe waaraan ek gewoond was. Dit was nogal ’n groot verbetering op die ou soort waar jy eers van al die pitte ontslae moes raak. Ek het nou nog net van die een soort geproe maar sien daarna uit om die ander ook te probeer.

Vroeër dae was waatlemoene ’n moet by alle familiekuiers. Die waatlemoen is gesny in skywe of ringe volgens die snyer se keuse. Die kroon is gewoonlik net aan die grootmense bedien en die jonges was maar aangewys op die skywe. Nadat die waatlemoen klaar geëet is, het die jonges mekaar rond gejaag en as jy gevang was is jy deeglik besmeer met die groen skyf wat oorgebly het. Na so ’n sessie het jy sommer met klere en al in die sementdam gespring om van die taai sous ontslae te raak.

As daar konfyt met die waatlemoenskywe gekook is, moes die kinders wegbly sodat ma dit kon bewerk. Dit was nogal ’n ritueel waarmee pa moes help. Die skil moes dun afgesny word en die wit gedeelte van die skyf moes dan in blokkies gesny en in kalkwater gelê word vir die nag. Môreoggend moes dit afgewater word en dan het die kokery begin. As daardie blokkies deurskynend gekook is met ’n gemmerstropie was dit die lekkerste lekker om dit so een-een te eet.

Ek weet nou nie of die nuwe soorte geskik is vir jemkokery nie maar ek dink terug aan die tye toe dit amper ’n instelling was om waatlemoen waatlemoen te eet wanneer daar ’n paar mense bymekaar was. Nou kan jy net ’n gedeelte van ’n waartlemoen koop as jou gesin te klein is om ’n hele een te verorber. Daardie tyd kon jy ’n groot waartlemoen koop vir vyf rand en nou is dit ’n bargain as jy een kry vir twintig rand. Dit was my dogter se moes hê toe sy swanger was en toe het ons gelukkig in ’n streek gebly waar waartlemoene volop was. As ons gaan kuier het, was dit vir haar ’n groot bederf om soveel waartlemoen te eet as wat sy wou.

This entry was posted in Kos, Somer and tagged . Bookmark the permalink.

4 Responses to Somertyd, waatlemoentyd

  1. Vandag is hulle hondduur! Moet maar langs die pad koop.

  2. MaanKind sê:

    Ek is skoon spyt die seisoen is amper oor. Waatlemoene is HEERLIK hierdie jaar.

  3. doulien sê:

    Afhangende van die grootte van blokkies…sommige moes met mes en vurk so op kleinbordjie ge-eet word, hmmmm , dan girts die blokkie so en daardie stropie, ag mens heerlik!!

  4. Slakkelak sê:

    Eet daardie blokkies konfyt met ‘n stukkie bloukaas… Heerlik!

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s