Huweliksprobleme

Nou die oggend se besprekingspunt op die radio het my gedagtes ook aan die dink gesit. Hoekom het die verhoudings van toentertyd so lank gehou? Was dit vir ons die feit dat julle voor die preekstoel ’n belofte gemaak het dat julle die verbintenis wat julle nou maak, na die beste van julle vermoë sal maak werk? Nou klink die woorde so hol en betekenisloos dat ek wonder of dit nog in die trouformulier hoort: Tot die dood ons skei; en dan hou die getroude lewe net ’n jaar of twee.

Ek luister na die menings van die inbellers: Die meeste sê dat daar te min kommunikasie tussen die paar is, ander blameer die invloede van televisie, internet en die feit dat die vrou nou moet buitenshuis werk om die pot aan die kook te hou. Ek myself glo nog aan die ma wat die huishouding behartig want dit bly maar ’n tameletjie om die kers aan albei kante te laat brand. Om moeg van die werk, waar sy haar beste moet gee, by die huis te kom en dan in te stap om haar huishoudelike pligte na te kom, veroorsaak dat daar sommer gou-gou irritasie sal insluip. Dan is daar konfrontasie tussen die kinders wat ook hulle deel van ma se aandag wil opeis. Aandete wat berei moet word, skoolwerk waarmee daar gehelp moet word. Pa aan wie daar ook darem aandag gegee moet word. Gelukkig is hedendaagse mans baie handig in die kombuis as jy hulle sover kan kry om ’n handjie by te sit met die kokery. Kyk maar na die klagtes in die briewe wat vrouens na die beraders in tydskrifte skryf. Die meeste vrouens kla dat manlief by die huis kom, van sy werksklere ontslae raak en dan voor die televisie gaan sit met ’n bier in die hand.

Omdat ons in ’n era groot geword het dat vrouens nie gewerk het nie, was dit baie makliker want die aandete was voorberei, die kinders gebad en reg vir slaaptyd. Pa kon nog ’n paar draaie in die tuin gaan loop voordat daar geëet word. Nou is albei moeg na ’n moeilike werksdag en is dit nie snaaks dat daar kort voor lank ’n woordewisseling uitbreek nie. Verwyte dat hy of sy altyd moeg is en tyd vir mekaar ontbreek volg. Dan dink jy onwillekeurig aan die dae toe hulle nog vryers was en niks te groot of moeilik was vir beide van hulle nie. In ’n saamblyverhouding werk dit soos die spreekwoord sê: Liefde is blind en trou is die bril. Na die troue sien mens elke klein foutjie raak en word dit ’n groot probleem.

Die kinders wat julle graag wou hê en oor gedroom het word partykeer een van die struikelblokke wat opduik. Probleme met die manier van grootmaak veroorsaak ook baie struwelinge. As die kind nog ’n koliekbaba is en die geskreeu nooit ophou nie, kan dit ’n verhouding nogal ’n lelike knou gee. Dan kan jy nogal dink aan die belofte: for better or for worse. Ek weet dat nie een van die twee daaroor verwyt kan word nie, maar is dit ongelukkig so dat dit gebeur. Dan kom nog die verskillende fases waardeur hulle gaan en die ouers is die middelpunt van alles.

Een van die paar wat alles wat die ander een doen wil kontrolleer, kan ook baie probleme veroorsaak. Jy wil darem voel dat jy ’n mens in eie reg is en vir jouself kan dink. Daarom is dit wonderlik as twee ooreen kan kom en elkeen ’n inset kan gee van wat hy of sy dink. Hulle sê mos dis ’n kwessie van gee en neem: vyftig-vyftig. Ek sal nie sê dat ek ’n kenner is wat nooit foute gemaak het nie maar het met die jare het ek besef dat dit baie beter is as ’n mens eers vooraf oor ’n probleem gesels en struikelblokke uit die weg ruim wat onenigheid kan veroorsaak. Jaloesie en besitlikheid is ook ’n groot deel van onmin.

Daar is die grappie van die ou tannie wat na ’n lang huwelikslewe gesê het dat sy nooit gedink het aan skei nie maar nogal baie keer aan moord is nie so ver van die waarheid nie. Skei was in ons tyd ’n ongehoorde ding. Mense het vasgebyt en dinge maak werk. Na vyftig jaar se getroude lewe en tien jaar se alleen wees kan ek julle verseker mis ek nogal al die oppe en affe van ons saamwees, ongeag die verskille.

This entry was posted in Keuses, Mans en meisies and tagged , . Bookmark the permalink.

2 Responses to Huweliksprobleme

  1. Toortsie sê:

    Ja, getroudwees en getroud bly klink deesdae nie meer so lekker nie. In die ou dae, behalwe dat die vrou by die huis gebly het en aan die kinders en huishouding aandag gegee het, was daar ook wette wat dit moeilik gemaak het om te skei. Die aanslae is groot en baie. Ek glo nog aan ‘n outydse huwelik, selfs al is die vrou nie meer die vloerlap nie, maar ‘n persoon in eie reg. Dit is maar net rustiger vir almal as die vrou by die huis of van die huis af werk of dalk net deeltyds werk. Natuurlik is die geld minder, maar geld kan nie geluk koop nie.

  2. seegogga sê:

    waar is die goeie ou dae toe vroue tuisgebly het en self hulle kinders grootgemaak het?Hoewel moeiliker vir ma en finansies, glo ek dis die beste , en moontlik vir die huwelik ook. maar waar my gravatar heen verdwyn het , sal nugter alleen weet.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s