Afdankings

Nadat ek nou die dag nuus gekyk het, is my gedagtes by al daardie mense wat hulle werk kwyt gaan wees aan die einde van die maand.

Hoeveel mense is platgeslaan want waar kom die geld vandaan om die pot aan die kook te hou? Die persoon met wie ’n onderhoud gevoer is, het gesê een van die dames wat haar afleggingsbrief gekry het, het ineengestort en gevra: “Waarheen nou?” Vir ons wat op die kantlyn staan, is dit ondenkbaar want, behalwe om vir daardie mense jammer te voel, wat kan ons tog doen? Totdat dieselfde lot een van jou mense tref en jy besef waardeur daardie mense gegaan het nie. Dan is mens nie verbaas oor die hoë depressiesyfer onder die mense nie.

Is dit vir jou snaaks wanneer jy die bedelaars op die hoek van die straat sien wat al hoe meer jong mense insluit? Werkloosheid het ’n stigma wat die persoon wat dit getref het laat voel asof hulle nikswerd is nie. Jou medemense kyk sulke mense aan asof dit hulle  skuld is dat daardie lot hulle getref het.

In sekere gevalle is daar die enkeling wat nie reëls gehoorsaam nie of ’n houding aanneem dat hy of sy onvervangbaar is en dan sy of haar eie kop volg. Daarmee het ek ook nie simpatie nie. Maar my simpatie lê by die persoon wat sy bes doen en tog maar die deur gewys word weens ander redes. Die ouer wat nie meer die huislening kan betaal nie, nie skoolfondse en kos vir die kinders kan voorsien nie. Ek dink dit kan jou selfbeeld baie skaad.

Kyk maar om jou rond en sien die man wat op die hoek van die straat wag vir iemand om vir hom ’n werkie aan te bied al is dit vir net ’n skamele bedraggie. Daar moet nou by die huis gekom word met leë hande, want wat kan jy koop met honderd rand? As die oorskietkos wat ons elke dag net in die asdrom gooi omdat ons vol fiemies is oor wat ons wil eet net op ’n honger mens se bord kon kom, dink net hoedat so ’n kind of oumens se oë sou blink.

In ons dae was geld baie skaars en moes jy maak doen met wat jy het. Pa was die enigste broodwinner maar daar was nie so ’n groot verskil in salarisse nie. Almal het swaar gekry. Kos wat jyself kon kweek het natuurlik baie gehelp. Ons het ook swaar gekry om die kinders te gee wat hulle nodig gehad het maar met hand me downs het ons tog die mas opgekom. Lekkernye was skaars, en daar was ook nie geld wat gespandeer kon word op goed wat nie eintlik nodig was nie.

Nou moet die elektrisiteits- en waterrekening en die grondbelasting betaal word anders sny die munisipaliteit dit af. Waarheen nou? Familie probeer help maar ook hulle kry swaar. Hoor nou anderdag hoeveel kinders in inrigtings is waarvan die ouers nie meer kan voorsien in hulle behoeftes nie.

Aprilmaand styg alle pryse weer en ek wonder hoe nou gemaak as jy nie ’n werk het nie. Kop onder die sand sal nie help nie, dis ’n werklikheid waarvoor daar nie ’n antwoord is nie. Die toelae van die regering koop net mieliemeel wat darem die ergste honger kan stil, maar ek glo dat enige persoon sou wou werk om in sy eie behoeftes te voorsien. Ook ter wille van jou selfbeeld sodat jy ten minste nie soos ’n nikswerd voel nie. Gaan op jou knieë as daardie lot jou nie getref het nie en wanneer jy wel die vermoë het om uit so ’n penarie te kom.

This entry was posted in Mense en hul dinge, Werk and tagged , , . Bookmark the permalink.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s