Kosmosblomme

Kosmostyd. Die lappe pienk en wit blommeprag al langs die hoofpaaie is ’n lus vir die oog. Elke jaar hierdie tyd is dit ’n plesier om jou oë oor die uitgestrekte velde van blomme te laat gaan. Dan dink jy dit is nie net Namakwaland wat kan spog met so ’n blomtapyt nie.

Dit was ons vakansietyd toe die kinders nog op skool was, so ver as wat jy ry was dit net blomme aan die kant van die pad. Party plase waar die lande nie geploeg was nie, was ook oortrek met kosmosblomme. Dan wonder jy so by jouself hoe het al daardie saad behoue gebly. Want soos klokslag elke jaar hierdie tyd is daar ’n magdom blomme. ’n See van pienk en wit. Dit bly ’n wonder vir my. Ons moes kort-kort stilhou sodat ons net kon kyk en die prag daarvan bewonder.

In baie huise pryk daar skilderye van kosmosblomme. Gerwe blomme word ook gepluk om in huise te rangskik, maar vir my is dit baie mooier in die natuurlike staat. Soos ek gesê het, dit was die tyd van vakansiehou, dus assosieer ek dit altyd met die tyd dat ons met ’n volgepakte kar iewers heen op pad was. Vir kilometers ry jy op ’n pad wat omsoom is met blomme amper soos ’n erewag.

Hier waar ek nou bly is daar nie die oordaad van kosmosse nie, net so hier en daar ’n enkele blommetjie. Ek mis daardie oorvloed blomme van die Hoëveldse streke. So het elke deel van ons wonderlike land iets wat besonders is.

Kosmostyd sal in my gedagtes altyd vakansie tyd bly, al word ek ook baie ouer. Dit het die wisseling van seisoene gekenmerk en mens het geweet dat winter net om die draai is. Dit bly die beste tyd vir my om vakansie te hou want dit is nie meer so warm nie. Mens kan langer op die strand rond baljaar en die sonnetjie indrink. Die kinders het elke oomblik geniet.

Vakansies gaan mos te gou verby, maar die onthou van die lekker dae kan jy darem baie lank saam met jou dra. Daarom na soveel lang jare as die kosmos blom kom die herinneringe terug, en is ek weer jonk en aan die gang. Verbeel ek my dat ek nog tot baie dinge in staat is al is dit net in my kop. Onthou ek ook hoe ek voorbok was by die swemmery in die see, die nonsiespratery en stories wat ek vir die kinders opgedis het. Die draai-roomysse wat ons na ’n swemsessie by die roomysman met die karretjie gekoop het. Ai, dit bly maar lekker, al dink jy nou nog net daaraan.

So geniet die pragtige gesig van die weelderige uitstalling van pienk en wit blomme, dit kom net een maal ’n jaar. Foto’s laat nie altyd reg aan die kleureprag geskied nie; jy moet dit sien om dit regtig te waardeer.

This entry was posted in Herinneringe, Natuur, Vakansie and tagged , , . Bookmark the permalink.

One Response to Kosmosblomme

  1. ButterNut sê:

    Ek onthou ook die kosmos langs die paaie . . . dit maak die mooiste prentjies!

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s