Visvang

My ou man was ’n baie geesdriftige hengelaar. Elke Saterdag as daar nie dringende werk was om te doen nie, is die mandjie gepak, visstokke ingelaai en is daar inderhaas besluit waar om te gaan visvang.

My ma se siening was dat dit nodeloos was om te gaan visvang as daar nie ’n “r” in die maand was nie. Vir die seuns was dit tog te snaaks want visse kan mos nie lees nie. Of die storie waar is of nie, weet ek nie, maar ons het ons tog nie daaraan gesteur nie. Vis het ons probeer vang ongeag die naam van die maand. Nou wonder ek of enigeen kan sê of daar enige waarheid in die storie steek.

Ek kan nie meer onthou of ons enige sukses gehad het met ons visvangery nie, maar probeer het ons probeer. Loskopdam was een van ons gunstelingplekke want, terwyl die manne besig was om te vis, kon ek lekker voëls dophou. Ek kan nou nog in my verbeelding hoor hoe die visarend skreeu en sien hoe hy laag swiep oor die water om sy vissie te vang.

 Varswater vis se smaak was nog nooit vir my aanvaarbaar nie en is die vis maar net teruggesit in die water. Baie mense vra wat die sin daarin is om vis te vang as jy dit teruggooi. Ek dink dit gaan om die rustige wag vir ’n byt en die opgewondenheid as daar ’n grote is wat jy kan uittrek. Ek kan nie regtig sê wat daardeur bereik word nie, maar dit moet seker terapeutiese waarde hê want Saterdag na Saterdag is die visstokke ingepak as die weer dit toegelaat het. Vir my was dit lekker want dan kon jy luilekker ontspan, lees en sommer net geniet van die heerlike buitelug en ’n vleisie braai. Almal was ontspanne en in ’n goeie luim, veral as die visse gebyt het. Ons het laatmiddag huiswaarts gekeer, reg vir die volgende week se hardloop om alles gedoen te kry.

Sardientjietyd langs die Natalse kus was weer ’n ander belewenis. Toe was die finansies al beter en het ons ook belê in ’n tyddeel woonstel. Reg teen die see, so as dit tyd word vir operasie sardienloop was ons partykeer baie gelukkig dat ons nie eens hoef af te gehardloop het strand toe nie. Ons kon dit sommer so van die balkon af geniet.

Daar was dan ’n heerlike buffettafel gedek en onder groot gejil en gewerskaf van die hordes mense wat sardiens kom kyk en vang het, het ons rustig die manewales aanskou: Die seëvoels wat afswiep en vissies gryp, hulle gesnater en die blink lyfies van die vissies wat spartel was werklik die moeite werd om te sien.

Die kleinkinders het toe ook al begin belangstel in oupa se liefde vir visvang. Dit was vir my duidelik dat oupa hulle aandag goed getrek het as hy terugkom van die strand met ’n vis of twee wat oor die kole gebraai gaan word. Snaaks genoeg het ons nou nie een kleinkind wat besonders lief is vir hengel nie. Miskien as hulle ouer word maar ek glo hulle is meer geïnterresserd in rekenaars as om vis te vang.

Dit was lekker dae totdat die belangstellings van die seuns in ander rigtings begin draai het. Toe het sport en meisies deel geword het van wat vir hulle natuurlik baie lekkerder was as om saam met die oumense te wees. Na skool was dit diensplig en was daardie heerlike samesyn iets van die verlede. Die lewe gaan aan en toe was dit net pa en ma wat die tyd terug probeer draai het. Al wat oorbly is die onthou.

This entry was posted in Gewoontes, Herinneringe, Vakansie and tagged , , , , . Bookmark the permalink.

7 Responses to Visvang

  1. Gelukkig tog dat mens die herinneringe altyd kan blinkvryf.

  2. Mens mag maar verlang…

  3. Flenters sê:

    In Junie (sonder die “r”) werk die vlieg die beste

  4. Ai, nou verlang ek opnuut na al die lekker visvangdae – met of sonder die r.

  5. Jip. Die idee met die “r”. Maande sonder die “r”, Mei, Junie, Julie, Aug – Dis winter maande, gereserveer vir jag.🙂 Soos Flenters sê, ook die tyd wat Forel byt.
    Kinders leer ‘n liefde aan vir hengel en jag SLEGS as hulle gereeld daaraan blootgestel word, dit is nie iets wat deesdae sommer net vanself kom nie.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s