Geite

Die spreekwoord wat sê, so gemaak en so laat staan, kan ’n mens seker toepas op baie mense se manier van doen. In my familie kan ons lekker lag oor elkeen se kenmerkende maniertjies. Besef jy dat al doen jy ook al wat, al daardie geite is ingebore?

Omdat ek so haastig is om ’n ding gedoen te kry maak ek partykeer van myself ’n gek. Soos toe ek agter ’n persoon by die winkel toonbank wat vir iets besonders vra wat nie op die vloer beskikbaar was nie sonder om asseblief te vra ek sommer so uit die dwarste vir sy part die asseblief byvoeg. Hy het seker gedink die ou tannie is koekoes. So is ek, wil sommer die takie uit iemand se hande neem as dit te stadig na my sin gaan. Ek weet nou na al die jare dat alles onnodig was, mense het buitendien nie vinniger gewerk of hulle manier van doen verander nie. Wat jou baiekeer in ander mense so irriteer dat jy kan skreeu is vir hulle soos asemhaal.

Party mense glo weer dat jy, soos my ma, nie sout vir iemand moet aangee nie maar dit eers op die tafel moet neersit sodat die persoon dit self kan vat. Ons kinders het dit natuurlik geweet maar as daar iemand anders aan tafel was, moes ons eers die storie vertel dat die aangee van sout ’n breuk in mens se vriendskap kon veroorsaak. Vir hulle was dit onverstaanbaar want wat het sout nou met jou verhouding te doen.

Soos ek sê, elkeen het maar ’n geit. Oor my suster se bad hang daar vyf verskillende kleure waslappe, een vir elke deel van die liggaam. Gesig, bene, arms en die res van die liggaam is kleur gekodeer.

My seun meet weer sy toiletpapier vanaf die rol tot op die vloer voordat hy dit afskeur. My dogter kyk gereeld agter die kasdeure of enige plek waar daar moontlik ’n slang of iets goggarigs kan skuil. So het elkeen van ons maar ’n ding of twee wat ons doen waarvan ander mense nie hou nie of waaroor hulle lekker lag. Ons beskou dit as normaal en ander dink nie so nie.

Toe ek ’n kind was, was my oupa en ouma ook deel van die gesin. Hulle het ook ’n groot invloed op ons as kinders gehad. Ouma was maar stillerig maar oupa was ’n regte kwaai ou kêrel. Ons was maar lugtig vir hom want sy bynaam onder die huismense was Leeu. Hy was altyd reg om jou by te kom, hetsy met die tong of die karwatsie wat langs sy stoel gelê het. Ons het maar so ver moontlik buite sy bereik probeer bly. Gelukkig was ons grotendeels buite besig, Op daardie stadium was oupa Leeu in beheer van die groentetuin. Ons moes help met natlei en water aandra en die beddings wat gemaak moes word. Bewaar jou siel as jy nie na sy sin jou werk gedoen het nie. Wat egter in sy guns getel het was dat hy met pensioendag vergoed het met ’n spesiale eetdingetjie. Ons het hom dan vergewe vir sy kort humeur. Nou nog, as ek iemand iets halfhartigs sien doen, dink ek aan oupa Leeu en wens sy karwats was byderhand.

Daar is seker ook goed wat vir ander mense onverklaarbaar lyk in julle families, goed waarvoor ander mense ook maar snaaks opkyk en kop skud omdat hulle ook dink, sjoe, maar die ou is snaaks. Gelukkig aanvaar ons huismense ons soos ons is al dink baie daar is niks so irriterend soos ons onbewustelike doen en late nie.

This entry was posted in Gewoontes and tagged , , . Bookmark the permalink.

4 Responses to Geite

  1. MaanKind sê:

    Ons het seker maar almal ons geite, maar my ouma se spieëls toegooi kon ek nooit verstaan as die weer swaar was nie…

  2. O ek het ook al daai asseblief ding in ‘n winkel gedoen.

  3. Flenters sê:

    Al jou geite klink bekend. Die goed op die etenstafel aanskuif eerder as aangee was in my ingewetter. So ook brood met konfyt op eers nadat elke dis geëet was.

    Maar dan was daar ‘n gros van ons wat teen wil en dank in dieselfde stel geite ingedwing was.

    By net sommiges het dit ‘n lewelank bly vassteek

  4. Geite is baie interessante goete. My ma het ook ‘n ewige vrees vir weerlig gehad en altyd die spieëls toegegooi en gebid terwyl die donderweer swaar was.

    Ek het natuurlik geen geite waarvan ek weet nie,🙂 maar ek wed my man sal van my verskil.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s