Vakansietyd

Vir ons as ’n groot gesin was dit altyd baie lekker om saam vakansie te hou. Om so ’n vakansie te beplan was baie maklik want elkeen het geweet waarvan die ander mense hou. Struwelinge kon gou opgelos word want ons was baie na aan mekaar en het die vrymoedigheid gehad om ’n saak direk te benader en sodoende sommer op die man af jou sê te sê. Nerwe was nie altyd so dun dat die aanhoorder vir lank in ’n stil stuipe verval het nie. Ons het gewoonlik by ’n warmwaterbron of by die see uitgespan.

Dit het begin in die jare toe jongmense nooit sonder chaperones was nie. Die taak het op my en manlief se skouers gerus want pa en ma was nie meer lus om saam met die jonges uit te hang nie. Vir ons was dit lekker om so saam met die jonges te baljaar en die dinge te doen waarvoor hulle te vinde was. So met nabetragting kan ek nie glo dat ons so uitbundig kon tekere gaan nie.

Ons het gewoonlik uitgekamp. Daardie tyd was die kampgeriewe maar baie basies. Gelukkig het ons net daar geslaap want die meeste van die tyd was ons besig in die swembad of om onder ’n paar bome piekniek te hou. Saans is daar tot laat toe lekker saam gekuier om ’n vuurtjie as die weer dit toegelaat het. Dit was ook in die tyd van die inryteaters en as daar n lekker skop, skiet en baklei film gedraai het, het ons soheentoe gery.

Na so ’n langnaweek was ons natuurlik so gaar gebrand deur die son van al die swemmery dat ons nie kon wag om in ’n lekker bad gedokter met ’n goeie hand koeksoda in te ontspan nie.

Een ding weet ek verseker die tyd het heeltemaal te vinnig verby gegaan. Deesdae kan mens vinnig afry na jou vakansieplek en in ’n luukse gastehuis of chalet gaan rus, Die jonges het spesiale geriewe en om saam met ouer mense te gaan, is nou iets van die verlede. Gelukkig is die spesiale band wat ons daardie tyd met ons jonger susters en broer gehad het nog steeds vir my baie besonders. Ons is nou al almal bejaard en vol pyne en skete maar is kuier altyd baie lekker saam.

This entry was posted in Gewoontes, Herinneringe and tagged , , , . Bookmark the permalink.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s