Pannekoek

Vandag is heerlike pannekoekweer en dit tower altyd vir my ’n prentjie op van my man se pannekoekbakdae op. Hy het ’n spesiale aluminiumpan gehad waarin hy sy pannekoeke by die dosyne gebak het. Daardie pan was vir niks anders gebruik nie. Hy het nooit die stoofplaat gebruik om sy pannekoeke te bak nie. Slegs ’n primus of gasprimus is gebruik vir daardie doel. Hy het ook sy eie resep gehad wat hy geglo het onfeilbaar is. Hy was die een wat ingestaan het by die kerkbasaars om saam met die vrouens pannekoek te bak, wat vir my ’n groot verligting was want my sterkpunt is definitief nie pannekoekbak nie. Hy kon ’n pannekoek flip wat skrik vir niks.

Ons kleinkinders was baie in hulle noppies wanneer oupa aangekondig het dat hy vir hulle pannekoek gaan bak. Hulle het gewoonlik kompetisie gehou wie die meeste pannekoeke kan verorber. Pannekoek met baie suiker en kaneel. Oupa het nie gewag vir ’n reëntjie om uit te sak voordat hy sy pannekoekpan te voorskyn gebring het nie. Vir hom was dit ’n plesier om pannekoek te bak, seker omdat die kinders so baie vir hom vertel het hoe lekker sy pannekoeke smaak. Die ou kleintjies het altyd daar naby kom sit sodat oupa vir hulle kan wys hoe gooi hy ’n pannekoek in die lug op en vang dit sonder dat dit vou.

Noudat hy nie meer hier is nie, is pannekoek net ’n herinnering aan die dae toe mense dit as vanselfsprekend aanvaar het dat oupa se pannekoek vir hulle sou wag wanneer hulle kom kuier het. Daar was suiker en kaneel deurdrenkte pannekoeke waarvoor mense nie kon wag om hulle tande in te slaan nie. Later van tyd het hy begin om vir ons ook ander vulsels in te sit en ons kon vra net waarvoor ons lus was. ’n Ligte maaltyd met maalvleiskerrie of gerookte hoender met kaassous het later sy soet pannekoeke vervang.

Ek persoonlik dink dat hy maar net ’n verskoning gesoek het om pannekoek te bak; vir hom was dit n manier om ons te bederf. Hyself was ’n diabeet en kon hy darem van die pannekoek geniet wat nie suiker of soet vulsels in gehad het nie.

Die groot probleem wat ek met ander mense se pannekoeke het, is dat ek dit opweeg teen die waaraan ek gewoond was. As dit nie taai is nie, is dit dalk te dik of iets anders wat my afsit. Miskien verbeel ek my maar net maar vir ons was oupa se pannekoek die beste. Pannekoek was oupa se bederf en niks het daarby gekom nie. Dit was vir hom ’n manier om vir die kinders te wys hoe hy daarvan hou om vir hulle iets spesiaals te doen.

This entry was posted in Herinneringe, Kinders, Kos and tagged , , . Bookmark the permalink.

2 Responses to Pannekoek

  1. Slakkelak sê:

    My ma het 8 kinders en was vir 26 jaar die laerskool se pannekoektannie. Die deeg is die vorige dat aangemaak en in 25 liter emmers gegooi, ‘n paar daarvan. En daarom het ek ‘n lae profiel gehandhaaf by skoolaktiwiteite, ek het reeds my deel werk as kind gedoen…

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s