’n Engel op my pad

Glo jy in engele? Ek het ’n storie van ’n engel wat my lewe heeltemaal verander het sodat ek ’n positiewe houding oor myself kon hê.

My storie begin baie jare gelede. Ek was so in my laat twintigs, toe ek gediagnoseer is met ulseratiewe colitis, ’n ongeneeslike siekte van die kolon. My lewe het bestaan uit pyn en  konstante diarree. Ons huislewe het maar normaalweg voortgegaan, behalwe dat die huismense maar altyd voorsiening moes maak vir ma se ontydige toiletbesoeke. Gelukkig was ek nog altyd ’n halfvol-glas mens. So het ek nog buitenshuis gewerk. Op die oog af het ek niks makeer nie, maar het die skyn voorgehou. Daar was ook nog die drie kinders wat ek nie graag wou ontstel nie. So het ons maar rondgeploeter, met ma kort-kort in die hospitaal. Soos ek sê, ek is soos ’n kurkprop: lank kan jy my nie onderhou nie, ek skiet sommer vanself op.

My man en ek het besluit dat dit tyd was om die land bietjie  op Staatskoste te verken. Ons het esluit dat wanneer daar ’n verplasing iewers heen aangebied word en ons van die plek hou, ons sak en pak daarheen sou trek. So het ons toe op vreemde plekke en nuwe vriende die toekoms in gegaan. Veral ek was reg vir enige nuwe ondervindings. Ook het ek nuwe dokters leer ken wat ook maar niks aan my toestand kon doen nie. Toe het ek nie meer buitenshuis gewerk nie. My dogter was reeds op universiteit en net die twee seuns was nog daar. Gelukkig het hulle of atletiek beoefen of in die veld rondgery om die wêreld om hulle te verken. Maar deurentyd het my gesondheid bly versleg.

Sestien jaar later het die dokters besluit dat tot hier toe en nie verder nie. Die kolon moet waai. Dit is waar my storie nou eintlik begin. Die dokter het reëlings getref vir my opname in die hospitaal en sou my laat weet het wanneer om aan te meld. Intussen het die telefoon buite werking geraak.

Toe die telefoon uiteindelik herstel is en die dokter my kon skakel, laat weet hy ek moet twee uur dieselfde dag aanmeld. Die teater is vir Woensdag, 28 Februarie 1979 gereël. Dit was ’n geskarrel om alles gedoen te kry voor my opname: hare moes gesny word, want ons weet nie hoe lank ek in die hospitaal gaan wees nie, die laaste toiletbenodigdhede moes aangeskaf word en ek moes my nagklere regkry. Gelukkig was my man darem daar om die huishouding oor te neem.

Woensdag het aangebreek en my man was daar om my vir oulaas moed in te praat, voordat hulle my die teater sou binnestoot. Dit was halfagt in die oggend. Die operasie het agt uur lank geduur. Gelukkig kon ek narkose altyd goed hanteer en die keer was dit ook so. Maar daarna kan ek julle verseker dat ek maar ’n rowwe tydjie gehad het. My gemoedstoestand het aanhoudend gefluktueer. Waar ek in die verlede altyd die positiewe gesien het, het dinge my nou onder gekry. Ek was swaarmoedig en ek het baie keer gewens dat ek maar kon doodgaan. Ek het nie selfmoord oorweeg nie,  net gewens dat die lewe sou ophou. Natuurlik was daar die gewone nagevolge van ’n operasie: pyn en moegheid, maar my probleem was dat ek myself nie kon help nie. Daar was ook niemand wat iets van die situasie af geweet het om my inligting te gee oor die hantering van die stoma en gebruik van die toilet nie. Die verpleegsters het nie geweet hoe om die stoma te hanteer nie en menige oggend het ek wakker geword met iets soos brandwonde waar die stoma uitgelek het. Die verpleegpersoneel het my baie stief behandel wat bygedra het tot my teneergedruktheid en my menswaardigheid aangetas het. Soms het iemand vir my geskree omdat sy my wond moes versorg. Ek het heeltyd gevoel asof ek om verskoning moes vra omdat ek so baie werk veroorsaak het.

Een oggend het ek besluit dat ek maar iemand moes kry om my hare te kom was en te  versorg, miskien sou ek dan beter voel. Vroeg die volgende oggend hoor ek iemand roep my naam en ek dog toe dis die mense van die haarkapper wat my kom haal. Die persoon wat ingekom het, was heeltemal vreemd vir my. Sy het haarself aan my voorgestel as suster Botes, geeneen wat ek geken het nie.

Toe sê sy vir my: “Mevrou, jy sal my nooit glo nie, maar toe ek hier verby die hospitaal gery het, was dit asof iemand vir my gesê het om hier in te kom want daar is iemand hier wat jou baie nodig het.”

Daar en dan dring dit tot my deur dat God gehoor het. Hy het geluister na my smeekgebede om iemand te stuur wat my kon help. Suster Botes was die engel op my pad. Suster Botes was aan die Kankervereniging verbonde. Sy kon my help met al my vrae en onsekerhede wat vir my soos ’n berg gelyk het. Gou-gou het sy my geleer oor my nuwe leefstyl: die korrekte manier van toiletgebruik, die aansit van die kolostomiesakkie en versorging daarvan.

Ek het nou al 34 jaar saam met die sakkie geleef. Maar dit was nie ’n straf nie; dit was asof daar vir my ’n tweede lewe aangebreek het. Ek kon elke dag met dankbaarheid aanpak met die wete dat as dit nie vir my engel was wat my daardie dag gered het nie, ek nou heeltemaal anders sou gevoel het oor my gebrek. Wees net verseker daar is ’n God wat hoor. My lewe is so normaal soos enige ander persoon s’n. Na die operasie het ek die wêreld vol gereis, selfs twee jaar op die grens deurgebring. Ek het wonderlike vakansies gehad en was selfs die voorbok in die see saam met my kinders en my susters se kinders.

Al wat ek kan sê, is: “Dankie, suster Botes, dat jy daardie dag na die stem geluister het en hierdie vrou wat op moedverloor se vlakte was gehelp het.”

This entry was posted in Depressie, Dokters and tagged , , , . Bookmark the permalink.

7 Responses to ’n Engel op my pad

  1. MaanKind sê:

    Ag siestog man, Klippie. Dit moes baie erg gewees het in daardie tyd. ♥

  2. Slakkelak sê:

    ENIGE prosedure behoort behoortlik verduidelik te word, en vir sulke ingrypende prosedures moet berading deel uitmaak daarvan. Bly dat daar vir jou ‘n engel gestuur is in ‘n tyd waar berading ‘n vloekwoord was

    • klippie sê:

      34 jaar terug was daar nie so iets nie. Dokters het ook nie altyd alles mooi verduidelik nie. En al kon hulle ook, het hulle nie met die praktiese sy van die naversorging te doen nie.

  3. Kameel sê:

    En so het ek jou weer gevind.
    Dit is wonderlik hoe God sy gehoorsame kinders gebruik om vir ander engele te wees.🙂

  4. Wat ‘n wonderlike getuienis. Al het jy hierdie stukkie lank terug geskryf.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s