Onverwagse gaste

My kop maak altyd spronge wanneer ek sekere woorde hoor. Nou die dag toe ek skryf oor die woorde “kaboedel” en “kasarm”, onthou ek weer die word “pakkaas”. Dié woord het ons altyd gebruik wanneer die familie onverwags vir ’n week of twee kom afpak het sonder om ons eers vooraf te waarsku. Dan het ons altyd gesê: “So en so het met sy hele pakkaas kom kuier.”

Soos julle seker weet, het ons ouer geslag nie net een of twee kinders gehad nie, maar vyf, ses of selfs agt was die norm. Wanneer die familie dan so by jou kom afpak het, moes jy inderhaas planne beraam vir slaapplek vir die pakkaas. Koskook was nie ’n problem nie, want as mens gewoond is daaraan om vir agt mense te kook, is dit gewoonlik net ’n verdubbeling van bestanddele om ook vir die onverwagse kuiergaste kos te gee. Gelukkig was die ou paraffienblikke altyd vol beskuit en soetkoekies en kon die kinders se honger mae gewoonlik stil gehou word tot dit tyd was vir ete.

Vir ons as kinders was die onverwagse kuier altyd baie lekker: ons kon speel met die niggies en nefies en het ons altyd prober om alreeds vroegoggend weg te wees in die veld sodat ons dit kon vryspring om heeldag koffie vir die grootmense aan te dra. Ongelukkig was ons meisiekinders se voorland altyd om die skottelgoed na ete op te was.

Dankie tog vir die ou Dover stoof waarop die ketel heeldag aan die kook gehou is en altyd gereed was vir die volgende sarsie koffie. Daar was nooit ’n verskoning van, ons wag eers vir die ketel om te kook nie. Later van tyd het ons in die somer die primusstofie gebruik om die ketel op te kook. Daardie jare was die koffiemakery en skottelgoedwas vir my die onaangenaamste werk wat enigeen kon doen. Veral omdat my ouers altyd ’n huisvol gaste gehad het. Maar nou moet ek bely, hier op my oudag verlang ek baie terug na daardie tyd.

This entry was posted in Afrikaanse taal, Familie, Herinneringe and tagged , , . Bookmark the permalink.

One Response to Onverwagse gaste

  1. Ons het die speel met die nefies en niggies net so geniet, salig onbewus van die uitdagings wat die familie kuiers aan my arme ma gestel het

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s