Ou mense

Hier waar ek (meesal) in die bed lê, is my grootste bron van inligting die radio. Selfs kort nuusberiggies kry nou tyd om in my te kom nesmaak. Soos die berig dat die Sjinese regering kinders wat nie na hulle ou mense wil omsien nie, strafregtelik wil vervolg.

Nou wil ek ook my eiertjie in die verband lê, ’n klip in die bos gooi daaromtrent.

Ek is nog maar kort in die ouetehuis maar ek het tyd gehad om baie dinge op te merk, soos dat iemand wat onbeskof was in sy jonger jare nie verander wanneer hy ouer word nie, maar net nog erger optree en die versorgers soos drek behandel. Of die ander inwoner wat aan Alzheimers ly, nog steeds sy goeie maniere openbaar wat hy in sy kinderjare moes aangeleer het. Hy staan op wanneer ’n vrou by die kamer inkom, maak die deure vir vrouens oop en help om swaar pakkies aan te dra. Hy sê altyd asseblief en dankie, selfs vir die geringste dingetjie.

Die hartseerste mens wat ek egter aanskou het, is Joan. Sy het alle moed opgegee om te leef omdat haar kinders haar nie kom besoek het nie. Die storie was dat haar kinders haar net tydelik na die ouetehuis gebring het terwyl hulle na ’n geskikte huis in Kenia sou gaan soek het. Sy het heeltyd gesê dat haar kinders haar net vir twee maande by die tehuis ingeskryf het en dat hulle haar daarna sou kom haal.

In die betrokke tyd het die kinders egter nooit vir Joan kom besoek nie. Sy was verskriklik teneergedruk en het heeldag alleen in haar kamer gesit en TV kyk, soms selfs tot 2 uur in die oggend. Die versorgers het al hulle dae gehad om haar sover te kry om net te was en skoon aan te trek. Maar namate die einde van die twee maande aangebreek het, het sy al hoe meer uit haar dop gekruip: sy het vroeg opgestaan en skoon aangetrek, selfs buite op die stoep in die son gaan sit en met die ander inwoners gepraat. Sy het minder TV gekyk en begin koerant lees.

Toe is die twee maande op maar die kinders het nie opgedaag nie, selfs nie eens ’n telefoonoproep gemaak nie. Sy het weer in haar kamer gaan wegkruip, agter ’n toe deur en wou nie eens die gordyne oopgetrek hê nie. Sy het geweier om te eet of te drink. Die bestuurder van die tehuis het die kinders laat weet van Joan se toestand en hulle het beloof om te kom kuier. Maar elke dag het hulle laat weet dit sal eers die volgende dag kon wees.

Op daardie stadium het Joan sekerlik geweet dat hulle nie meer gaan kom nie. Sy het vir die versorgers gesê, wanneer hulle haar probeer voer het, dat hulle maar kan ophou want sy wil doodgaan. Een aand het iemand haar sover gekry om roomys te eet maar terwyl sy haar gevoer het, het Joan ’n hartaanval gekry. Sy is die volgende dag in die hospitaal oorlede sonder dat haar kinders haar een keer kom besoek of gebel het.

Vir my was dit aardig dat kinders hulle ouer onder ’n vals voorwendsel by die tehuis kom inskryf het en nie eens met haar in kontak gebly het nie. Van die huiskoop in Kenia het natuurlik niks gekom nie want hulle bly nog steeds in die omgewing. As dit nou in Sjina was, sou ons die mense kon aangekla het van oumensverwaarlosing?

This entry was posted in Depressie, Oudword and tagged , , , , , , . Bookmark the permalink.

2 Responses to Ou mense

  1. MaanKind sê:

    Mens lees altyd van sulke dinge, maar my kop wil nie glo dis moontlik nie.

    • klippie sê:

      As ek dit nie met my eie oë gesien het nie, sou ek dit nou nog nie kon glo nie. Hier is ‘n man wat aan Alzheimers ly. Vandat sy vrou hom vier jaar gelede hier afgelaai het, het nie sy of sy kinders nog ooit vir hom kom kuier nie.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s