Blomme

Blomme was deel van my lewe vandat ek jonk getroud was. Hoe dan anders met  ’n man wat fanaties was oor blomme en deur blomme te kweek nie net uiting gegee aan sy drang om in die grond te werk nie, maar ook ’n ekstra inkomstetjie verdien het waarmee ons noodsaaklikhede kon aanskaf of selfs kon gaan vakansie hou het.

Hy was mal oor angeliere en gelukkig was die blomme daardie tyd nogal ’n gier onder die mense. Nou nog kan ek die naeltjiegeur van die angeliere optower wanneer ek my oë toemaak en die plate angeliere in blom sien staan. Maar hoe mooi dit ook al gelyk het, dit was baie harde werk wat ons met die minimum hulp gedoen het. En as die gerwe blomme eers in die pakkamer gestaan het, was dit om in die geur van die blomme te verdrink.

Wit angeliere was baie gewild maar die geringste reëntjie het hulle geel laat word en dan was hulle so te sê niks werd nie. Rooi angeliere was ook gewild, veral onder die jong manne wat gaan vlerksleep het.

Na die angeliergier hom uitgewoed het, het hy begin varkore kweek. Veral die eksotiese kleure was gewild: pienk en geel en later ook die donkerder kleure. Daar was die grootste werk weer om al die bolle na die blomseisoen uit te lig om maar net later weer te plant. My ou man het ook sy eie konkoksie aangemaak waarmee die bolle behandel is sodat dit gesond kon bly vir die volgende plantseisoen.

Maar die blommekwekery het sy tol geëis: my man het siek geword van die gifstof waarmee die peste en plae van die blomme weggehou is. So het ons op doktersaandrang toe die boerdery gestaak en my man het himself beskikbaar gestel vir werk in ander dele van die land. Dit was ook van die gelukkigste tye in my lewe.

Toe my man aftree, kon hy himself nie weerhou nie. Blomme moes hy plant. En hierdie keer het hy rose begin aanplant totdat hy later 700 roosbome gehad het. Wanneer die blomme begin oopgaan het, was dit die verruklikste prentjie en het mense wat ons van geen aardse kant geken het nie, sommer aan die deur kom klop net om in die roostuin te kon stap. Maar weer eens was die snoeiery ’n rugbrekende werk.

Nou kan mense seker verstaan waarom dit vir my so moeilik is om hier in my kamertjie te lê sonder blomme. Stel jou voor dat jy jou hele lewe lank deur blomme omring was en nou net plek het vir enkeles in ’n blompot. Daarom waardeer ek elke blom wat my kuiermense vir my aandra.

This entry was posted in Familie, Gewoontes, Herinneringe and tagged , , , . Bookmark the permalink.

9 Responses to Blomme

  1. MaanKind sê:

    Help lees darem, Klippie? Maar mens kan seker ook net soveel lees.

    • klippie sê:

      Mens kan ook net soveel lees. Daarom deel ek my dag baie sistematies in. Vroegoggend luister ek na die radio in die bed. Dan help die versorgers my op en sit ek en hekel of doen my blog tot middagete. Na middagete lees ek en doen blokraaisels. Na aandete kyk ek TV en lees tot met slaaptyd. Gewoonlik kom iemand ook elke middag vir my kuier en dit helder die dag ook op. Ongelukkig ly meeste mense wat deesdae versorging nodig het, aan Alzheimers of demensie, so van vriende maak in die tehuis is daar nie juis sprake nie.

  2. Pingback: Demensie | Klip in die bos

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s